Whiteley en lynstane Bokke se grootste pluspunte

Warren Whiteley (Foto: Steval Pumas/André Meintjies)

Warren Whiteley (Foto: Steval Pumas/André Meintjies)

Warren Whiteley en die span se lynstaanwerk val op as die Bokke se vernaamste pluspunte as `n mens na die statistiek van die Rugbykampioenskap op Sanzaar se webwerf kyk.

Whiteley is die enigste Bok wat in meer as een opsig onder die reeks se toptien tel.

Hy het die bal die tiende meeste van al die spelers in die reeks gedra (18 keer), hy het gesamentlik die vyfde meeste verdedigers geklop (sewe), die vyfde meeste lynstane gewen (vyf), en die sewende meeste duikslae uitgevier (19).

Wat die lynstane betref, het die Bokke benewens Whiteley nóg drie onder die toptien.

Die ses skoon lynstane wat Eben Etzebeth gewen het, is die vierde meeste deur `n speler, Pieter-Steph du Toit se vier plaas hom sesde, en Lood de Jager se drie besorg aan hom die sewende plek.

Oupa Mohoje se 30 duikslae plaas hom boaan dié lys; Johan Goosen se 128 meter is die vyfde verste wat iemand met die bal kon vorder; en die ses verdedigers wat Damian de Allende geklop het, gee hom die sesde plek.

Lionel Mapoe is oënskynlik die enigste Bok wat werklik weet hoe om die bal in `n duikslag uit te gee en het dit drie keer reggekry (agste op die lys).

Skoon breekslae is duidelik ook nie een van die Bokke se sterkpunte nie. Niemand kon in dié opsig die toptien haal nie.

Dalk moet Coetzee in elkgeval maar (minstens voorlopig) van hardlooprugby vergeet en aan sy rolmaaldrieë van die lynstane af werk.

Is dit nie logies om op jou sterkpunte te konsentreer nie?

En wen raak nou belangriker as enigiets anders.

♦ `n Ontleding deur die webwerf Rugby Today toon dat die meeste van die drieë in die afgelope Amerikaanse beroepsliga van lynstane af gedruk is. In die wenner, Denver, se geval was dit 39% en die naaswenner, Ohio, s’n 36%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico K ·

Dit is interessant dat van die spelers op die lys van die persone is wat die publiek so graag wil uitgooi. Maar dan het ek self nog altyd gedink statistiek sê nie alles nie.

Dehan ·

En steeds wil hulle vir Strauss as kaptein hê, Whiteley is ‘n goeie leier en hy is op vorm.

Frans C ·

Net een vragie gaan Marx en Mostert nou op hul vierde week vakansie aangesien nie een van die twee tot dusver eers die reserwebank kon haal nie? As ek nou aan samesweringsparanoia gely het sou ek sweer dat is die afrigter se manier om dinge vir die WP makliker te maak, kry soveel Leeus (huidige Curriebekerkampioen) as wat moontlik is, in die toerspan al dra hul ook net water aan en hou duiksakke vas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.