Whiteley of Vermeulen? ʼn Lekker tameletjie

Wie sal vanjaar dié trui dra? (Foto: The Saleroom)

Wanneer die Springbokkeurders oor ʼn paar weke hul groep moet kies wat in drie toetse teen die Franse speel, sal hulle diep nadink oor hul keuse as agtsteman.

Dit lê tussen Warren Whiteley en Duane Vermeulen, en dit gaan ʼn taai tameletjie wees.

Oor die jare heen is en was agtstemanne een van die belangrike rolspelers en besluitnemers van enige span.

Die heel ouer mense was gaande oor Hennie Muller; Morné du Plessis was een van die knapste agtstemanne nóg in ʼn Boktrui; en Bobby Skinstad het ʼn nuwe dimensie aan Springbokrugby gegee. Gary Teichmann het altyd sy bes gelewer; en Vermeulen was die yster van die Bok-agttal.

Só ook het Whiteley sy bates wat deur die Lions reg aangewend word.

Die All Blacks spog met ʼn ellelange lys: Brian Lochore, Murray Mexted, Zinzan Brooke en nou Kieran Read. Wat van die Britse Leeus se Mervyn Davies en Italië se Sergio Parisse, wat ʼn alleenstryd vir die Italianers voer?

Almal atleties, balvaardige baldraers, ʼn belangrike skakel tussen voor- en agterspelers, goeie lynstaanspringers en verdedigers.
Die meeste van hulle was ook kaptein omdat hulle denkers van die spel is.

Whiteley (1,93 en 106 kg) het reeds 68 Superwedstryde agter die rug en 15 toetse. Vermeulen (1,93 m en 115 kg) spog met 89 Superwedstryde vir die Stormers, 20 vir die Cheetahs en 37 toetse vir die Bokke.

Sommige kenners meen Whiteley raak weg wanneer dit warm raak, maar hoeveel keer het dit al in Supperrugby gebeur?
Word daar nie bloot van hom verwag om vaster te speel nie?

Vermeulen is straks Allister Coetzee se kortkop-gunsteling, hoewel daar bespiegel word dat hy na flank kan skuif om plek vir Whiteley as Bok-kaptein te maak.

Dit word ook bespiegel dat Vermeulen een van die spelers is wat Brendan Venter tuis wil hê.

Is dit finaansieel die moeite werd, veral omdat hy ʼn allemintige salaris by Toulon in Frankryk verdien en uitgekoop sal moet word?

Kies dus vir Whiteley teen die Franse en as die Bokke nie die mas opkom nie, kan daar mos altyd op Vermeulen in die Rugbykampioenskap teruggeval word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bert ·

Kieran Read is die man.

Mense, ons moet die All Blacks in ons massas ondersteun todat politiek in rugby sy ry gekry het. Begin die oorsese ligas volg vir plaaslike spelers. Dit kan nie so moeilik wees nie; derduisende sokker geesdriftiges volg en ondersteun oorsese spanne.

All Black ·

Stem. Stream julle wedstryde aanlyn en kanselleer julle DSTV, sodoende draai jy die krane indirek na SARU toe. Laat die dooies die doois begrawe!

Christian Schoeman ·

Ek stem, hulle moet hard-up wees as hulle wil terugval op Vermeulen! En hou asseblief op om oorsese spelers te kies. Ek weet die manne wil geldmaak, maar dis twak dat iemand heeljaar vir ‘n Franse of Britse klub speel en twee weke later vir die Bokke, terwyl ander hier in SA hul harte uitspeel, net om oor die hoof gesien te word vir die nasionale span.

Nico K ·

Ek stem nie saam dat ons nie oorsese spelers moet kies nie. Dink nou net as Namibië of Samoa sê spelers wat nie in hul land speel, kan nie gekies word nie. Dis mos belaglik. Hulle gaan met ‘n amateur span sit, want Namibië kan nie geld betaal nie. Hoekom moet ons die ouens laat kies tussen geld en springbok. Ons lei daaronder. Die probleem is lankal deur sokker uitgeskakel. Daar speel niemand klubsokker in sy eie land nie. Maar as die wêreldbeker kom kies ‘n land sy beste spelers. Dis net dom mense wat nie sy land se beste spelers sal kies nie. Maar oor Vermeulen stem ek saam. Hy was briljant, maar die laaste tyd wat hy vir die Springbokke gespeel het, het ek hom nie genoeg sien doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.