Wie betaal die WP- en OP-maatskappy se November-salarisse?

wp-rugby-logo-crop-320x293Dit is einde van die maand en dit sal interessant wees om te hoor hoe WP Rugby (Edms) Beperk en OP Rugby (Edms) Beperk hulle betalingsverpligting teenoor ondermeer die spelers vir November nagekom het.

Dit sluit natuurlik al hulle gekontrakteerde spelers in, waaronder die twee Super-franchise’e s’n.

Die WP-maatskappy het ʼn likwidasie-aansoek deur die WP Rugbyunie hangende en moes verlede maand staatmaak op ʼn ‘eenmalige’ R10 miljoen-oorbruggingslening van ʼn aandeelhouer, Remgro Sport Investments Limited, om hulle salarisverpligtinge vir spelers en personeel na te kom.

In die hofstukke tydens die aansoek het die president van die WP Rugbyunie Thelo Wakefield vroeër die maand aangevoer die WP-maatskappy sal sonder soortgelyke finansiële hulp nie in staat wees om salarisse of diens- en produkverskaffers te betaal nie.

Die maatskappy se oortrokke fasiliteit by die bank kan ook nie help nie en het by die hofdatum op feitlik R20-miljoen gestaan. Boonop skuld die maatskappy die WP Rugbyunie R7,8 miljoen, en word ʼn verlies van sowat R42-miljoen vir vanjaar  en sowat R57 miljoen vir 2017 voorspel.

Te midde hiervan is daar geen oënskynlike hernuwing van die vernaamste borgskappe wat teen die einde van die jaar verstryk nie. en daar is aanduidings dat ʼn aantal van hulle voorste spelers begin rondkyk vir oorsese kontrakte.

♦  Uit die Baai word berig dat die OP nie by aanstaande week se hoëvlakberaad van Saru stemreg sal hê wanneer ondermeer hulle toekoms bespreek sal word nie omdat hulle onder administrasie is.

Dit is bekend dat die OP-maatskappy se skuld hier by die R60 miljoen is en ook dat die likwidasieproses waarby hulle betrokke is sowat R14 miljoen behels.

Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het ook besluit om nie die finansiële steun wat deur Danny Jordaan as vorige (ANC) burgemeester aan die OP-maatskappy beloof is, gestand te doen nie.

♦  Die OP Rugbyunie, wat nou steeds nie enige steun van die maatskappy sal ontvang nie, sal waarskynlik ook uit die Curriebekerreeks se Premierliga weggelaat word omdat daar sterk steun is dat die reeks verklein moet word om meer krag teen krag in wedstryde te sien – en natuurlik ook onkostes te beperk.

Dit sal vir die OP Rugbyunie ʼn verdere afwatering van moontlike inkomste tot gevolg hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.