Wie gaan dit wees: Ruhan, Jesse of Lionel?

Lionel Mapoe – een van die opsies op buitesenter.(Foto: GB Jordaan)

As die Blitsbok Ruhan Nel Saterdag in Port Elizabeth sy buiging vir die Springbokke in die toetswedstryd in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies maak, wie sal op buitesenter vir hom opsy staan?

Jesse Kriel of Lionel Mapoe?

Nel, van wie daar die afgelope paar dae ʼn baie groot ophef gemaak is ondanks sy gebrek (trouens geen) ervaring op Superrugby-vlak nie, kan sy droom bewaarheid omdat Lukhanyo Am beseer is.

Niemand trek Nel se vaardighede in twyfel nie, want hoeveel keer het ons hom nie vir die Blitsbokke in sy 135 wedstryde sien uitblink nie?  Hy is groot, sterk en vinnig, ʼn stewige verdediger en kan die bal in ʼn druksituasie uitgee.

Maar ons praat hier van toetsrugby, van samespel en kombinasies. Of het die doelpale heeltemal verskuif?

Die regte senterkombinasie bly een van die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, se tameletjies.

Erasmus het in agt toetswedstryde vanjaar vier verskillende kombinasies in die opdrafspanne op die proef gestel. Boonop het hy verdere skuiwe gemaak wanneer plaasvervangers opgestuur is, soos om Handré Pollard na binnesenter te skuif met Elton Jantjies as die plaasvervanger-losskakel.

Tot dusver is André Esterhuizen en Jesse Kriel (twee keer), Damian de Allende en Am (drie keer), Esterhuizen en Am (twee keer) en De Allende en Kriel in die agt opdrafspanne op die proef gestel.

Geoordeel aan die Bokke se oorwinnings, was die kombinasie van De Allende en Am die suksesvolste. Hulle het in die eerste twee toetswedstryde teen Engeland gespeel asook in verlede Saterdag se kragmeting met die All Blacks in Wellington, wat almal op oorwinnings vir die Bokke uitgeloop het.

Nou is albei spelers beseer en sal daar opnuut ʼn kombinasie gevind moet word.

Die regte senterkombinasies was nog altyd een van die Springbokspanne van weleer se sterkpunte: Tjol Lategan en Ryk van Schoor, John Gainsford en Dave Stewart, Gainsford en Eben Oliver, Joggie Jansen en Mannetjies Roux, Hennie le Roux en Japie Mulder, Jean de Villiers, Frans Steyn en Jaque Fourie.

Hulle is soos vinkel en koljander, dink vir mekaar, vul mekaar aan.

Net die tyd sal leer of ʼn groentjie van die begin af naatloos kan inskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

LOL ·

Danie Gerber was goed genoeg om nie ‘n sentermaat te he nie?

Anoniem ·

Die probleem is op binnesenter, nie buitesenter nie. Ons het geen ordentlike binnesenters behalwe die stampkarre nie, dis hoekom ons agterlyn so sukkel om aan die gang te kom.

Johan ·

Miskien het ons juis die visie van ‘n sewes-speler nodig wat hopelik ‘n ander dimensie na die 15-man kode kan bring. Met die SupeRugby titel reeds vir alle praktiese doeleindes buite bereik, kan Rassie net sowel Ruhan Nel ‘n kans gee juis teen oa ‘n top span soos die All Blacks om te kyk of hy dalk wel daai “iets anders” na die agterlyn bring.

Wesley ·

Stem nogal saam om Ruhan in te span. Alhoewel ek n groot aanstaander was om Jantjies en Pollard op die beginspan saam te sit, is dit nogal n groot skuif vir Pollard wat ek net kan sien nou as iets wat vrugte kan dra in die laaste 20min wanneer n basis gele is in die eerste helfte soos in Wellington. Jantjies se spel in die eerste helfte is bietjie van n kommer… Kom ons sien maar wat Rassie gaan doen.

Frans C ·

Dit lyk my manne soos Jan Serfontein en Francois Venter word nie langer oorweeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.