Wie gaan nou die Sesnasies-reeks wen?

Richie Gray - Skotse afbreekspesialis Foto The Scrum Magazine

Richie Gray – Skotse afbreekspesialis Foto The Scrum Magazine

Die knuppel is in die hoenderhok in die Sesnasies-rugbyreeks.

Nadat Skotland op Murrayfield sy eerste oorwinning sedert 2006 in sy eerste wedstryd in die reeks behaal het toe hy Ierland met 27-22 geklop het, is die deur oopgelaat vir Engeland om sy neus voor te kry.

Maar die Engelse was alles behalwe oortuigend toe hulle met 19-16 teen die Franse op Twickenham deurgeskraap het.

Engeland het sodoende sy 15de agtereenvolgende toetsoorwinning behaal ­ – Eddie Jones se 14de ­in beheer – en die All Blacks se wêreldrekord van 18 oorwinnings is nou in die Rose se visier wanneer hulle op 18 Maart teen Ierland speel. Maar net soos Ierland, sal hulle ook hul peil  moet lig.

Die Skotte gewen omdat hulle beter verdedig het – hulle het 213 keer getêkkel en Ierland net 115 keer.  Die Iere het die bal ook 183 keer gedra en 485 meter veld gewen teenoor se Skotte se 291.

Hoe het die Iere dan verloor? Hul dissipline het hulle in die steek gelaat, hulle het een of twee belangrike lynstane verloor, hulle is in die stryd om besit geklop.
ʼn Vragie aan Suid-Afrika se rugbybase? Hoekom het hulle Richie Gray (die Skotte se afbreekspesialis) laat wegkom? Kyk net watter verskil hy vir die Skotte by die afbreekpunte maak.

Die Ierse afrigter, Joe Schmidt, vestig nou sy hoop dat die losskakel Jonny Sexton voor volgende Saterdag se Sesnasiestoets teen Italië van sy besering sal herstel. Maar daar wag baie ander werk en Schmidt-hulle sal ʼn Plan B moet bedink wanneer Plan A nie werk nie.

En Engeland? Die gewese Bok-afrigter Kitch Christie het altyd gesê die kenmerke van ʼn goeie span is wanneer hy aan die wenkant bly, al spel hy swak. Jones het nou ook genoeg pitkos om die spelers weer terug te bring aarde toe, te laat besef dat daar leemtes is, en om hulle van enige arrogansie te stroop.

En Frankryk?  Die Bokke kan nie te gerus slaap oor die Hane  se toer en drie toetse teen die Bokke in Junie nie.

Die Hane het ʼn fisieke pak wat goed skrum, hulle het lang slotte en die agtsteman, Louis Picamoles, kom net soos Duane Vermeulen elke keer oor die voordeellyn. Op losskakel is Camille Lopez dalk ʼn swakplek, maar op heelagter bring Scott Spedding baie vernuwing. Onthou ook dat die Franse se beste senter, Wesley Fofana, beseer was.

Geoordeel op Saterdag se vertoning, wie gaan die Sesnasies wen?

Die Engelse is steeds die gunsteling met die Skotte die buiteperd. Ierland het afgeskuif en kan selfs vierde eindig, agter Engeland, Skotland en Frankryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.