Wie het in Thormeulen se spore getrap?

Duane Vermeulen. Foto: GB Jordaan

Toe die Springbokagtsteman Duane Vermeulen ʼn paar weke gelede sy enkel beseer het en bevestig is dat hy die toetsreeks teen die Britse en Ierse Leeus sou misloop, was daar onsekerheid by Springbok-ondersteuners.

O wee, is gesug, waar sal ons hulp vandaan kom? Maar in Vermeulen, wat die afgelope paar seisoene die gom was wat die voorspelers aanmekaar gehou het, se afwesigheid het daar nie net een nie, maar drie spelers na vore getree wat in sy spore kon trap.

Die Bulle se 30-jarige Ulster-aanwins, Marcell Coetzee (1,93 m lank en 116 kg swaar), was voor in die ry.

Coetzee, wat reeds 30 keer vir die Bokke gespeel en tussen 2016 en 2021 57 keer vir Ulster (Noord-Ierland) uitgedraf het, se grootste bate is om keer op keer laag oor die voordeellyn te bars. Die stormram is byna onstuitbaar naby die teenstanders se doellyn en is ook ʼn uitstekende verdediger.

Coetzee was aanvanklik by die Bok-oefengroep betrek, maar Rassie Erasmus en Jacques Nienaber het eerder nog goud raakgeboor deur die 25-jarige Jasper Wiese, wat reeds 20 keer vir die Engelse klub Leicester Tigers uitgedraf het, te betrek.

Wiese (1,90 m lank en 110 kg swaar) is ook kliphard, vaardig en vinnig. Hy is Saterdag in slegs sy vierde toetswedstryd as speler van die wedstryd teen die Argentynse Poemas aangewys.

Dié boorling van Upington duit net soos Tiaan Strauss ʼn hele paar jaar gelede vir niks terug nie.

Met sy kennis van toestande in Europa sal Wiese (sy jonger broer Cobus Wiese speel vir die Sale Sharks in Manchester) en Coetzee aan die einde van die jaar groot bates vir ʼn Bok-toerspan wees.

Maar die blinkste diamant wat nog ontgin moet word, is die 21-jarige Evan Roos, agtsteman van die Westelike Provinsie.

Roos (1,92 m lank en 109 kg swaar), wat by Affies in Pretoria op skool was, maar toe na die Kaap verhuis het waar hy aan Paarl Boys High (Boishaai) gematrikuleer het, het in 2018 drie keer vir die SA skolespan gespeel. Hy is na skool na die Sharks-akademie in Durban gelok waar hy drie keer vir die Sharks gespeel het voordat hy sy loopbaan in die Kaap vir die Stormers en Westelike Provinsie hervat het.

Hy is net soos Wiese en Coetzee ook baie vaardig, vinnig en kliphard.

Vermeulen sal binnekort weer vir die Bokke uitdraf, want ervaring van 54 toetse word nie op elke hoek gekoop nie.

Maar nou weet ons dat daar met ʼn geruste hart in die spelerspens rondgekrap kan word as die 35-jarige superster, wie se bynaam Thor(meulen) is, nie beskikbaar is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.