Wie is blinkste Suid-Afrikaners in Engelse liga?

Willie le Roux (Foto: GB Jordaan)

Suid-Afrikaanse rugbygeesdriftiges sal dalk nogal verras wees om te sien watter spelers uit die Suidland volgens die amptelike statistieke die blinkste in die Engelse Premierliga vaar.

Nee, hulle is nie tussen die voorste puntemakers of driedrukkers nie, maar dat hulle hul kant bring, is nie altemit nie.

Wie het, byvoorbeeld, tot dusver vanjaar die meeste drieë help maak?

Boaan die lys is die versmaaide Springbok-heelagter Willie le Roux (Wasps). Luidens die statistieke het hy ʼn hand in 13 drieë gehad.

En glo dit of nie, derde is die geringgeskatte Bok-skrumskakel Faf de Klerk (Sale) wat agt drieë help aanvoor het.

De Klerk is ook die speler wat die bal die meeste keer laat loop het – 906 keer teenoor die Wallaby Nic White (Exeter) se 856 keer.

Wie het die bal die meeste gedra?

Die gewese Suid-Afrika-A- en Lions-agsteman Ruan Ackermann (Gloucester) se 194 keer in die tweede plek is slegs een minder as die Engelse toetsspeler Alex Goode (Saracens) se 195 draslae.

Die voorste verdedigers?

Die oudkaptein en flank van die Bulls, Jono Ross (Sale), is tweede op die lys met 212 duikslae. Net Lewis Ludlow (Gloucester), met 232, het meer aanvallers gestuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christian Schoeman ·

Daai Ackermann gaan nog vir Engeland speel, hou dop! Net nog ‘n speler wat vir SA verlore is, ons almal weet hoekom.

Hewitt ·

En hoekom sou dit wees Christian? Is dit alweer die kwotas se skuld? Niks te doen met Duane, Kriel, Warren, die Du Preez broers en Louw nie? Hulle is mos nie kwotas nie of hoe? Of is dit omdat iemand soos Kolisi, wat dit 150% verdien ook deel is van die probleem? Seker Cassiem en Mohoje dan? Hulle is dalk nie beter as hy nie, maar dit is nie agv hulle dat hy in Engeland speel nie. Hy het sy Pa gevolg en ‘n goeie salaris, geen skande daarin nie. Dit help nie almal blameer altyd kwotas nie, want die hemel weet, ek is seker Jesse Kriel en Handre Pollard is dan ook definitief kwotas. Dit is mos wat dit beteken, as jy nie die beste speler in jou posisie is nie, maar steeds gekies word? Dan word daar mos verwys na kwotas? Of is dit nou gebasseer op die kleur van jou vel? Help ‘n bietjie toe man?

Louis ·

Hewitt- lekke, lekke, lekke kry ek nou. Daai ou weet nie veel van rugby nie.
Wil net sy naam hier sien.

B-man ·

Om ‘n heelagter/vleuel onder dieselfde kam te skeer vir “aandeel in drieë” as ‘n skrumskakel – klink vir my statisties, onakkuraat. ‘n Skrumskakel het oor die algemeen baie meer ‘toegang’ tot die bal as meeste van die spelers op die veld, natuurlik behoort hy dan ook meer aandeel in drieë hê. Sal graag wil weet wat as parameters gebruik word om hierdie syfers te bepaal (tyd wat verloop het tussen bal raak en druk, dalk die tweede laaste baldraer of word elke drie uitsonderlik ontleed deur kundiges?).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.