Wie is die koning van die stelskoppers?

Naas Botha. (Foto Youtube)

Suksesvolle skoppe pale toe wen rugbywedstryde, dis ʼn feit soos ʼn koei.

Die rekordboeke sal jou vertel van Benny Osler, Okey Geffin, Gerald Bosch en Ian McCallum.

Wat van Tiny Naudé se wenstrafdoel in 1965 in die modder in die derde toets teen die All Blacks in Christchurch toe die Bokke met 19 – 16 gewen het?

Die ou leerbal was nat, swaar en vol modder; die skop was ver, maar Naudé het dit perfek gelanseer.

Wat van Naas Botha se suksesvolle doelskop in 1980 in die reën in die derde toets teen die Britse en Ierse Leeus in Port Elizabeth. Dit het die Bokke met 12 – 10 laat wen om ʼn onaanvegbare voorsprong in die reeks te neem.

Boonop was dit vanuit die linkerhoek en in die Baai se berugte wind nadat Gerrie Germishuys die wendrie ná ʼn vinnige lynstaaningooi gedruk het. Maar Botha het koelkop gebly.

Wat van Louis Koen se suksesvolle doodsnikdoelskop in 2003 toe die Bokke die Argentynse Poemas, ook in Port Elizabeth, met 26 – 25 geklop het?

Geen wonder Koen se bynaam was Louis Skoen nie.

Jurie Nel, ʼn Suid-Afrikaanse aktuaris en uiters geesdriftige rugbyondersteuner, versamel al die afgelope paar jaar die inligting en data van alle stelskoppers (toetsrugby, Engelse Premierliga, Superrugby-, Pro14-, Curriebekerreeks, en so meer).

Daarby ingereken is die afstand van die skop, die hoek waarteen dit waargeneem is, die hoogte bo seevlak, die grootte van die veld, die telling in daardie stadium, of dit ʼn tuis- of wegwedstryd was en ook of die skop in die eerste of tweede helfte waargeneem is.

In 2015 was Morné Steyn die koning van stelskoppers en nou het Nel bevind dat twee Walliesers, Leigh Halfpenny en Dan Biggar, op die troon sit.

Handré Pollard is negende en raai wat, die All Black-skopper Beauden Barrett is slegs 50ste.

Wat baie interessant is, is dat die Wembley-stadion in Londen met die hoogste suksessyfer spog.

Die Vrystaat-stadion is sesde, die Nelson Mandelabaai-stadion 13de, Loftus Versfeld 29ste, gevolg deur Nuweland (31ste), Kingspark (45ste) en dan eers Ellispark (50ste), waar net 642 van die 857 skoppe oor die dwarslat gevlieg het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael 1 ·

Naas Botha was soos muhammad alli die beste in hulle sporte en die tipe sportsmanne kom net eenkeer in n leeftyd.

Raadslid ·

De Wet Ras was sekerlik die beste skopper en losskakels.
Ongelukkig is daar in sy tyd erg teen die VRU en sy spelers gediskrimineer seker ook waarom De Wet sê naam nie hier verskyn nie.

PieterP ·

Dan was daar De Wet Ras, Gerald Bosch, en ou Percy Montgomery selfs ook

Melvin ·

Moenie van Robbie Blair vergeet nie…. Selfde skop klas as DeWetRas en Naas Botha

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.