Wie kan nog vir Martin Pelser onthou?

Martin Pelser sak toe op die 1960-All Blacks se skrumskakel, Kevin Briscoe.

Een van die vurigste en hardste flanke wat nog vir die Springbokke gespeel het, die oud-Transvaler Martin Pelser, het verlede naweek ʼn beroerte gehad en volgens sy seun Franna, is hy in ʼn ernstige toestand in die waakeenheid van ʼn Krugersdorpse hospitaal.

Pelser, 84, is blind in sy linkeroog, maar dit het hom nie verhinder om tussen 1958 en 1961 in 11 toetse vir die Bokke te speel nie.

Jare gelede, in ʼn onderhoud met die legendariese All Blacks-slot Colin Meads, het hy Pelser uitgesonder as die een van die hardste – indien nie die heel hardste nie – teenstander wat hy in sy loopbaan teëgekom het.

Volgens Meads was dit sy taak, saam met die ewe harde Kelvin Tremain, om Pelser in die reeks van 1960 reg te sien. Die plan was dat Meads voor in die lynstane moes spring om die skeidsregter se aandag op hom te vestig, terwyl Tremain vir Pelser agter reggesien het.

“Hy het geen oog verroer nie, net vir nog en nog slae teruggekom, totdat ons die plan maar laat vaar het,” het Meads destyds gesê, wat groot vriende met Pelser geword het.

Dit het my laat terugdink aan nog ʼn wonderlike staaltjie oor nóg ʼn oud-Springbok met net een oog, die voormalige Vrystaatse slot Johan de Bruyn.

Gordon Brown, die Skotse slot wat in 1974 vir die Britse Leeus gespeel het, se paadjies het met dié van “Bruines” soos De Bruyn bekend gestaan het, in die derde toets in die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth gekruis.

Dit was ʼn vuil wedstryd. Die Bokke was met 0-2 in die reeks agter en die span is met ʼn paar “meanies” gelaai. Nie dat dit eintlik gehelp het nie, want die Bokke het dié dag met 9-26 slae gekry, en boonop die geveg verloor.

In ʼn stadium het een van die Leeus vir De Bruyn só hard getimmer dat sy glasoog uitgeval het.

Volgens Brown (die oud-Springbokkaptein Hannes Marais het dit later beaam) het feitlik al die spelers en skeidsregter op hul knieë na die glasoog gesoek. Toe dit gevind is, het De Bruyn dit vinnig teruggedruk, met ʼn grasspruitjie wat by die oogkas uitgehang het.

Brown, wat in 2001 aan kanker oorlede is en ʼn skreeusnaakse geleentheidspreker was, het dié staaltjie altyd met groot genot vertel, ook in 2001 in die Grosvenor-hotel in Londen kort voor sy dood.

“Ek kon dit nie oor my hart kry om hom van sy grasspruitjie te vertel nie, en toe stop die bakleiery net daar en dan,” het Brown vertel.

Aan die einde van die aand in die Grosvenor-hotel het daar op Brown ʼn groot verrassing gewag, want niemand anders nie as De Bruyn was daar en het ʼn glasoog, gemonteer op ʼn voetstuk, aan Brown oorhandig.

“Nou hoef jy nooit weer jou oë van my af te hou nie,” het De Bruyn volgens The Observer gesê. Rugbylegendes, gegiet uit yster en klip, wat ons nooit moet vergeet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henry ·

Martin Pelser was inderdaad ‘n yster op die rugbyveld wat die onvoorwaardelike respek van alle spelers verdien het, wat saam en veral teen hom gespeel het.
Hou duim vas dat dit gou beter sal gaan.

Chris -Natal ·

Ek haal graag aan uit ”Goodbye Newlands Farewell Eden Park’ geskryf in die tydperk van isolasie vierde toets in PE ”To the great satisfaction of the spectators and quite a number of players from both teams, Briscoe was finally and most definitely put in his place by Pelser. A left hook did it, a punch thrown with such precision and timing that Briscoe was knocked cold and had to be revived. And if Pelser settled the score with Briscoe, he also certainly was the prime reason for New Zealand’s defeat.The one eyed flanker from Transvaal turned in a magnificent performance and he scored the winning try’
Ek onthou hom van my kinderdae wat ‘n yster!!
Sterkte Martin

Johannes ·

As daar ooit n Yster was,was dit Martin, die sterkste en beste voorspeler wat ek ooit die vooreg gehad het om te ken en tesien speel STERKTE MARTIN EN HERSTEL GOU EN VOLKOME

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.