Wie kan nou nog Lions se rus-besluit kritiseer?

Courtnall Skosan druk die eerste van die Lions se vyf drieë. (Foto: GB Jordaan)

Courtnall Skosan druk die eerste van die Lions se vyf drieë. (Foto: GB Jordaan)

`n Mens wil jou nie ná die tyd slim hou nie, maar nou weet ons dat die Lions, ondanks baie bedenkinge, in die kol was deur hul opdrafspan verlede week teen die Jaguares in Buenos Aires week te laat rus.

Dis ou nuus wat met die Sharks en Stormers in die twee ander kwarteindwedstryde gebeur het: saam kon hulle net drie drieë druk (almal deur die Stormers) en saam het hulle 14 drieë deurgelaat. Dit was pynlik om te sien hoe hulle onderskeidelik deur die Hurricanes (41-0) en Chiefs (60-21) afgeransel is.

Regdeur die jaar was albei spanne maar ba onindrukkwekkend in die ligafase. Die Stormers het 49 drieë in 15 ligawedstryde gedruk (teen swakker Australiese spanne) en het 28 afgestaan. Die Sharks kon net 40 keer druk en het 30 afgestaan. En die Lions? Hulle het 71 drieë gedruk!

Nou het daar nog `n paar reputasies in die slag gebly en nog `n paar koppe sal hopelik rol wanneer die Bok-afrigter, Allister Coetzee, sy groep aanwys vir die komende Rugbykampioenskap. Daar is nie meer plek om weg te kruip nie, daar is nie meer plek vir sentiment nie, daar is nie meer plek vir spelers wat oorsee (heeltemal tereg) hul brood en botter verdien, om die jawoord bo plaaslike spelers te kry nie.

Ek ag Bryan Habana, Duane Vermeulen en Francois Louw steeds hoog, maar wanneer laas het hulle gespeel?

Die Sharks en Stormers het met 2007 se bloudruk probeer speel en nou sal hulle Saterdag op televisie moet kyk wanneer die Lions teen die Highlanders in een van die halfeindstryde op Ellispark speel.

Die Crusaders, hoewel hulle sewende op vanjaar se puntelys geëindig het, was sedert 1996 die bestendigste van al die spanne in die Superreekse. Hulle het die Lions vroeër vanjaar op Ellispark geklop en kon dit weer doen.

Dis hoekom Johan Ackermann die regte besluit geneem het om nie sy beste spelers aan `n lang vlug te onderwerp nie, om beserings te vermy en eerder tuis te bly en aan te hou oefen.

Die Lions se batterye was gelaai, hul energievlakke was hoog, hulle het in `n vinnige tempo gespeel en nie afgewyk van die patroon waarop hulle vier jaar gelede besluit het toe hulle deur die SA rugbybase uit die Superreeks geskop is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Sterkte Lions…..bou net dieselfde struktuir as verlede naweek

Marius van Niekerk ·

Ek stem heelhartig saam – moenie spelers kies wat oorsee speel nie. En as jy ‘n Springbokspan kies, kies jy eenvoudig die beste speler in sy posisie. Maak nie saak hoe oud of hoe jonk hy is nie, en of hy 100 toetse al gespeel het, of niks nie. Kies die spelers wat huidiglik op vorm is, en klaar. En dan, rig hulle ordentlik af, met ‘n wedstrydplan. NIE ‘n doellose geskoppery nie. Ons het die spelers. Kies reg, en as die afrigting reg is, KAN ons die All Blacks klop. Maar, kies ouens op grond van hulle name, en speel stormram rugby, en ons gaan al ons toetse verloor!

Tc ·

Kitch Christie het nie 1995 die beste spelers gekies nie maar die HONGER spelers en die RWC was ons sin.Tans is die Lions die hongerste spelers soos in 1995 so,Alister laai die Bokspan met Lions!Ja uit my eie Stormers bek sê ek dit!!!!!

jonathan ·

dis reg.die lions het dit weer bewys.dit gaan nie oor erkende name nie.dit gaan oor spelers wat wil rugby speel.ek is self n stormer supporter.kies spelers op meriete.die beste in die posisie.dit sal voordelig vir bok rugby wees.

Nico K ·

Ek stem met een punt nie saam met Marius en ander wat sê dat daar nie plek is vir spelers wat oorsee speel nie. En net die volgende oomblik sê Marius ons moet die beste spelers kies. As ‘n speler die beste is en hy speel oorsee, kies hom! Hoekom moet iemand kies tussen geld en Springbok. In wêreld sokker is hierdie probleem lankal opgelos. Geen van die wêreld se beste spelers speel klubsokker in hul eie land nie. Nou wil julle dat dat bv. Argentinië nooit vir Maradona moes gekies het nie omdat hy sy klubsokker oorsee speel! Die beste speler in die wêreld en volgens julle redenasie moes hy nie gekies geword het nie. Dit maak mos nie sin nie.

James Kock ·

‘n Bietjie voortydig om te dink dit was die regte besluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.