Wie kan Pollard vervang?

Jan Serfontein en Handre Pollard – twee van Allister Coetzee se kopsere (Foto GB Jordaan)

Die Springbokafrigter, Allister Coetzee, sit in tamatiestraat, hoewel die Bokspens ver van leeg is.

Die nuus dat Handré Pollard en Rohan Janse van Rensburg na alle waarskynlikheid die toetsreeks teen die Franse sal misloop, sal baie vrae aan Coetzee-hulle stel.

Boonop is Cobus Reinach en Jan Serfontein oor ʼn paar maande op pad oorsee en is Pat Lambie, Damian de Allende en Marcell Coetzee steeds beseer.

Wie kan Pollard vervang? As Pat Lambie van sy rugbesering herstel het, is hy die aangewese kandidaat, want almal weet teen dié tyd dat Coetzee om die een of ander rede nie die beste uit Elton Jantjies kan haal nie.

Lambie is die spreekwoordelike ongeluksvoël, want sedert 2014 het hy nog net 19 Superwedstryde vir die Sharks gespeel. Hy was lank langs die kantlyn vanweë ʼn geskeurde bo-armspier, nek-, rug- en skouerbeserings. Boonop was hy verlede jaar maande lank buite aksie weens harsingskudding nadat hy baie laat in die eerste toets teen Ierland deur CJ Stander platgeloop is.

Die talentvolle Curwin Bosch is ook op die lysie, maar dit sal  dalk in die beste belang van sy loopbaan wees as hy eers op die plaasvervangersbank ingesluit word en mettertyd aan die drukkoker-situasie van toetsrugby blootgestel word. Hy is ook  veronderstel om oor ʼn paar weke saam met die Junior Bokkies aan die Wêreldkampioenskap vir o.20-spanne in Georgië deel te neem. Net soos in die geval van die jong Nieu-Seelander Jordie Barrett, sal hulle dalk onttrek moet word as hulle vir toetsrugby benodig word.

As De Allende van sy enkelbesering herstel het, sal Coetzee hom weer as binnesenter inspan (ai, ai, ai), veral noudat Janse van Rensburg ʼn knie-operasie moet ondergaan. Maar dit sal Coetzee ook loon om in die rigting van Harold Vorster (Lions) te kyk, wat verlede Saterdag op Nuweland die leemtes in die spel van Daniël du Plessis (Stormers) blootgestel het. Die Sharks se stormram André Esterhuizen kan seker ook die hoofpyne verlig.

Gaan Coetzee vir Reinach en Serfontein bly kies? Ek sal, want hulle voeg waarde toe, maar dit kan beteken dat hulle nie vir die toer aan die einde van die jaar oorweeg kan word nie omdat hulle nog nie die vereiste 30 toetse gespeel het nie.

Gaan Coetzee ook vir Duane Vermeulen teruglok (ook as kaptein), hoewel hy voor die eerste toets teen die Franse dalk nog verpligtinge by Toulon sal hê?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Veritas ·

Lyk my die Pollard kêrel is maar ‘n sagte outjie. Hy is meer beseer as wat hy speel. Nogal ‘n jammerte want hy het beslis die talent en sg ‘Groot wedstryd temperament.’

Riaan ·

Ag kan hulle nou op hou skryf oor Pollard en Serfontein, beide kom van die bulletjies af, albei in elk geval over rated speelers, hulle kan enige dag vervang word!!!

Ed ·

Ja ons kon almal sien hoe goed was die Bokke verlede jaar veral sonder Pollard…

Hein ·

Asseblief..Jantjies kan gerus sy haarstyl verander.Hy lyk aaklig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.