Wie kan Saterdag die uitklophou op Ellispark plant?

werner swanepoelWerner, dis Saterdag die eindwedstryd van die Castle Rugbykampioenskap op Ellispark in Johannesburg. Die Springbokke en die All Blacks, Ellispark, die herontmoeting na die nederlaag in Auckland. Dit kan nie beter nie.

“Ja, beslis. Hierdie is ‘n grote in wêreldrugby. Die All Blacks is gelukkig om daardie bonuspunt teen die Argentyne te kon kry in die laaste minuut, maar dis die uitdaging vir die Bokke. Ellispark is ‘n goeie jagveld vir die Springbokke. Ek onthou in 2000 het ons die All Blacks 46-40 geklop en ek en Robbie Fleck het die dag elkeen twee drieë gedruk, en wie vergeet hoe Marius Joubert driekeer gaan druk het daai dag. Dis regtig ‘n spesiale plek vir Springbokrugby, om nie eens van die Wêreldbekereindstryd in 1995 te praat nie. Dit gaan ‘n groot dag vir die jong manne in die span wees, die volkslied, die haka, die vol stadion, alles dra by om die wedstryd onvergeetlik te maak.”

Dink jy Heyneke doen reg om met Bismarck op haker te begin? En hoe is die gemoedstoestand van die spelers?

“Kyk, as die mense se koppe hang by die braaivleisvure omdat ons nie vier drieë gedruk en nie die bonuspunt gekry het nie, dan is ons op die regte pad. Heyneke weet ons het twee van die beste hakers in wêreldrugby en hy weet dat Bismarck ‘n robuuste aanslag het, net wat ons nodig het teen die Kiwi’s. Ek dink die atmosfeer in die span is baie goed, dis ‘n mengsel van opgewondenheid en afwagting en dis presies wat nodig is vir die manne om op hul beste te funksioneer. Hy het natuurlik die keuse om na 60 minute die wêreld se ander beste haker op te sit en hom toe te laat om sy lopies rondom die skrums uit te voer en hopelik drieë te druk. Nee wat, ek is seker Bismarck sal nie weer vir die verkeerde redes onthou word in hierdie toets nie.”

Ons hoor gereeld dat dit die hoogtepunt in ons en die Nieu-Seelanders se rugby is as hulle teen ons speel, hier of in hul agterplaas. Is dit regtig die hoogtepunt in ‘n Springbok se lewe om teen die All Blacks te speel?

“Geen twyfel nie, dit is die beste rugby wat jy kan speel. Dink aan die hype voor die tyd, die media, die verwagtings by die rugbypubliek, die vol stadion. Dis regtig die hoogtepunt in beide lande se spelers se loopbaan om teen mekaar hier of daar te speel, jy kan enige oud-Bok of All Black vra, hy sal dit bevestig. As dit jou eerste keer is, staan jy verwonderd van die begin af, hier word die magtige haka voor jou uitgevoer en jy is deel daarvan. Dis nie ‘n ding van of jy bang word voor die tyd nie, dis net die groot respek vir hierdie tradisie tussen die twee spanne as jy die haka face.”

Die skeidsregter is Nigel Owens van Wallis. Hy sê die hoogtepunt van sy loopbaan breek Saterdag aan. Wat dink jy van hom as skeidsregter?

“Ek dink hy sal ‘n hoogtepunt hê as hy nie kaarte uit sy sak pluk nie. Hy is van die Noordelike Halfrond en ons weet hulle interpreteer die reëls by die afbreekpunte anders en strenger. Die Bokke sal versigtig moet wees, daar maar aan die ander kant sal Richie McCaw hom ook toets om seker te maak hoe hy die onkantlyne gaan blaas. Dis als maar deel van die spel en die manne weet hulle sal professioneel moet wees, want Owens is maar ‘n cocky tipe skeidsregter, hy wil wys wie’s baas op die veld. Hy het maar skoolhoof maniertjies, maar ek dink hy sal die wedstryd goed blaas.”

Dink jy ons gaan sukkel in die skrums, want hy het ‘n lang, stadige kadens by die skrumroepe?

“Nee wat, Pieter de Villiers, wat as skrumkonsultant vir die Bokke optree, sal met die manne gewerk het. Die ouens is professioneel en hulle sal hom uitgekyk het sonder om noodwendig kanse met hom te vat.”

Laaste woorde voor die groot toets?

“Kom ons hoop teen Saterdagaand braai ons lekker en vier die Bokke se oorwinning. Daar is groot verwagtinge om die wedstryd en ek is seker daar sal nie kwade gevoelens wees as ons nie die kampioenskap wen nie, maar darem die wedstryd behoorlik wen. Vier drieë is baie gevra, maar dis Springbokke en hulle weet hoe om dit te doen. Nou is dit net ons en ons manne wat die verskil gaan maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.