Wie kla met die witbrood onder die arm?

Francois Louw druk Suid-Afrika se eerste drie (Foto Facebook SA Rugby)

Hoe is dit moontlik dat die Springbokke verlede jaar teen Italië verloor het?

Hoe is dit moontlik dat die Springbokke Saterdag in Padua in koue en reën die wind uit Italië se seile gehaal en met 35-6 geseëvier het nadat hulle verlede jaar in Florence in baie beter toestande geklop is?

Dit was nog nie volmaak nie. Inteendeel, daar is steeds ʼn hele paar leemtes, maar wie kan stry met vyf drieë teen nul in gure weersomstandighede. Daar was nietemin ʼn verbetering in baie aspekte van die spel: ʼn nederlaag wat gewreek is en ʼn duidelike rigtingwyser vir die Springbokafrigter, Allister Coetzee, vir die pad vorentoe.

Die Springbokke het 58% besit en 58% gebiedsvoordeel gehad, hulle het die nerwe van die Italianers af geduik, en hulle het 250 duikslae uitgevoer en baie min gemis. Hulle het stewig geskrum (onthou die oppervlak was glad en nat), hulle het hul lynstane met gemaak gewen en het gerolmaal en gedryf.

Dit was nie aanskoulik nie,  maar nadat die Bokke rustyd met 21-6 voor was, is die wedstrydplan, wat in die tweede helfte steeds vervelig (maar doeltreffend) was, aangepas. Die boodskap was duidelik: gee die Italianers die bal, plaas hulle onder druk, hou hulle agter die voordeellyn en buit dan hulle foute uit.

Wat het ons met die oog op die toekoms wys geword?

Dat Andries Coetzee nog nie die antwoord op heelagter is nie, want hoewel hy baie woelig is, is hy steeds te voorspelbaar en probeer hy met elke bal aanval. Allister Coetzee kan niks verloor deur Warrick Gelant, wat sy eerste proesel toetsrugby as plaasvervanger-vleuel gekry het, aanstaande Saterdag op heelagter teen Wallis in te span nie.

Francois Venter is die antwoord op binnesenter en hopelik het ons nou die laaste van Damian de Allende gesien.

Handré Pollard behoort die eerstekeuse-losskakel te bly en sy stelskopwerk, ná baie oefening, is terug in die kol.

Steven Kitshoff moet ook in die beginspan as loskopstut wees, want Beast Mtawarira, ondanks sy 98 toetse, se uurglas is besig om leeg te loop.

Dan is Duane Vermeulen ook die beste agtsteman en vul hy die lostrio aan.

Maar nou is daar die vraag: wie gaan teen Wallis speel wanneer Vermeulen, Francois Louw, Franco Mostert en Elton Jantjies na hul oorsese klubs terugkeer? Gaan Coetzee die moed van sy oortuiging hê en met sy spankeuse en spelpatroon verras?

Die selfvertroue behoort terug te wees, ondanks die teenstand Saterdag. Nou kan daarop gebou word.

Puntemakers –  Suid-Afrika (21) 35: Drieë:  Francois Louw, Bongi Mbonambi, Francois Venter, Steven Kitshoff, Franco Mostert. Doelskoppe: Handré Pollard 7.
Italië (6) 6: Strafdoele: Carlo Canna 2.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Veritas ·

Dankbaar vir die wen maar ons moet in gedagte hou dat dit net Italië was. Dit wil darem voorkom asof ons vories besig is om in ‘n eenheid te ontwikkel. Ongelukkig gaan die toets teen Wallis weer die tweede keuses se swakhede blootlê.

Boerseun ·

Kan nie glo mense ondersteun nog n span wat op ras gekies word. Eintlik behoort hulle uit internationale sport verban te word.

Dirkie ·

Boerseun
Jy is verkeerd daar is spelers van alle kleur in gister se span wat nie daar hoort nie. Coetzee op heelagter en Skosan op vleuel hoort nie daar nie. Kriel op senter is op geleende tyd, en Ralapele hoort glad nie op n rugbyveld nie.

bollie ·

Raak tog net ontslae van Cronje, Kriel, Skosan en Coetzee asseblief. Vermeulen gaan gemis word volgende week. Geluk Alistair, net ‘n paar beter spankeuses en jy gaan een van ons mees suksesvolste Bok-afrigters word.

Joe Hall ·

‘n Blinde hoender pik ook so nou en dan ‘n pit raak.

Stem saam Boerseun!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.