Wie moet pa staan?

Hier gaan ons alweer … en ek verwys nie na die televisieprogram met dieselfde naam nie, maar na die Superrugbyreeks.

Die oud-Springbok-afrigter Nick Mallett het Saterdag tereg sy mond uitgespoel toe hy na die vertoning van die Japanse Sunwolves teen die Lions op Ellispark verwys het. Dalk moet ʼn mens die Lions meer krediet gee, wat alles op volle vaart gedoen het, wat 14 drieë gedruk het en met 94-7 geseëvier het, maar vir die Sanzaar-rugbybase en die Sunwolves wag daar yslike hoofbrekens.

Vroeër vanjaar is die Sunwolves met 83-17 deur die Hurricanes vermorsel, die Crusaders het met 50-3 gewen, en Saterdag was dit byna ʼn honderdtal.

Ontwikkeling?

Soos ek dit verstaan, word die spelers deur die Sunwolves uitgenooi om Superrugby te speel.

Maar aangesien die groot maatskappye soos Toshiba, Panasonic, Honda, Toyota, Kobe Steel, Ricoh en Canon die Japanse spanne besit, en die spelers se salarisse betaal, watter maatskappye sal hul hoogsbetaalde spelers vrystel en aan beserings blootstel?

Japan val ook in die Noordelike Halfrond en sy topligas word van Augustus af tot in Februarie beslis. Kry die Japanse spelers dus werklik ʼn behoorlike ruskans?

Kom ons maak sommetjies. Die Sunwolves kon nog net twee wedstryde in twee reekse wen, vanjaar teen die Bulls (eina!) en verlede jaar teen die Jaguares.

Verlede jaar, toe hulle in die swakker groep saam met van die Suid-Afrikaanse en Aussie-spanne meegeding het, was hul gemiddelde telling 42-20 (vir die teenstanders). Vanjaar in die sterker afdeling (teen die Nieu-Seelandse spanne) is dit 46-19.

Hoe kan ʼn span groei as hy weekliks slae kry, wanneer sy pak opgefrommel word en sy verdediging veel te wense oorlaat?

Dit laat ʼn mens die soveelste keer die vraag stel hoekom die Southern Kings en Cheetahs in aanstaande jaar se reeks in die stof gaan byt (neem tog die besluit sodat ons kan aanbeweeg) en die Sunwolves en Aussies ploeter voort?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Geld speel die deurslaggewende rol tesame met ‘n lamsakkige houding van SARU in die saak.

MM ·

Gelukkig gaan Aus ook ‘n span uit die reeks verloor en ten minste het die Wallabies nog nie teen Japan verloor nie so, Aussie ploeter darem in die regte rigting.

Therese van Schalkwyk ·

Stem saam.
Dis een ding om die Japannese se geploeter uit te wys, maar om die Aussies ook in die proses by te kom ‘n bietjie dik vir ‘n daalder!
Dalk moet die spelers van die tradisionele drie rugbylande eerder ‘n tikkie ruggraat en lojaliteit wys en beswaar maak teen hul medespelers se ‘wrede einde’.

Jaybee ·

Sulke tellings kan nie goed gepraat word nie, die spelers se selfvertroue kan onmoontlik groei. En te danke aan Saru sal dit net voortduur en ons moet twee spanne inboet.

Nico ·

SA boet 2 spanne in pmdat SA nie meer ‘n bestuur met riggraat het nie maar ‘n politieke korrekte bestuur.
Sou dit gebeur het as dok Craven of Louis Luyt nog die SARU bestuur gelei het? Nee dit sou nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.