Engelse toer: Shields se insluiting kan meesterskuif wees

Brad Shilds – meesterskuif. (Foto: Twitter)

Wie nie waag nie, wen nie.

Die insluiting van die Hurricanes se flank en kaptein, Brad Shields, vir die komende Engelse rugbytoer na Suid-Afrika maak groot opslae, want hy het nog nie ʼn enkele wedstryd vir ʼn Engelse klub gespeel nie.

Shields verhuis eers ná die Superrugbyseisoen na Londen waar hy oor sowat vyf maande vir die London Wasps sal speel.

Wat het die Engelse afrigter, Eddie Jones, besiel het om hom in te sluit, word daar sedert die aankondiging in die Britse media en deur oudspelers gevra.

Baie maklik. Shields (27) sal Jones se regterhand wees. Hy kan ʼn baie belangrike rol agter die skerms speel, die argitek wees as die Engelse dalk die Bokke sou klop.

Hoekom? Want Shields het, anders as die meeste ander lede van die Engelse afrigtingspan (en spelers), eerstehandse kennis van al die Suid-Afrikaanse spelers. Hy weet wat hul sterk- en swakpunte is, want hy speel immers al sedert 2012 (om presies te wees in 91 wedstryde) Superrugby vir die Hurricanes.

Hy was die kaptein van die Hurricanes se span wat in 2016 die Superrugbyreeks gewen het toe hulle die Lions met 20-3 geklop het. Hy het ook in 2015 se eindstryd gespeel en was ook verlede seisoen in die ‘Canes se groep wat die halfeindronde gehaal het, maar deur die Lions getroef is.

Jones was jare laas (as afrigter) in Suid-Afrika, destyds toe hy nog die Brumbies en die Wallabies afgerig het. Ja, hy was darem sowat twee weke lank in die Kaap toe hy byna die Stormers afgerig het, maar andersins was dit op verkenningstogte om die velde, kleedkamers, oefengeriewe en hotelle vir die komende Engelse toer te bestudeer – maar nie as afrigter nie.

Nou het hy ʼn regterhand. Shields sal na alle waarskynlikheid nie in die eerste toets speel nie, maar sal Jones se oor teen die grond wees.
Ja, dit kan tot groot ongelukkigheid ly en die Engelse spangees dalk vertroebel. Maar wie sal dan oor die Engelse-Kiwi Shields kla as die Engelse goed vaar?

Jare gelede het die oud-Springbokafrigter Kitch Christie baie van ʼn Nieu-Seelander, Dave Waterson, se kennis gebruik gemaak om die All Blacks, en ander spanne, te ontleed.

Wat besiel Christie, is daar oor Waterson se betrokkenheid gevra.

Ja, daar was baie ander rolspelers, maar al wat saak gemaak het, is dat die All Blacks in 1995 se Wêreldbekereindstryd uitoorlê is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.