Wie onthou nog vir Ras Dumisani?

Elin Tomos (Fot: stuff.co.nz)

Elin Tomos (Fot: stuff.co.nz)

Dis enige rugbyspeler se droom om toetsrugby te speel, net soos dit enige sanger se droom is om voor 50 000 toeskouers sy land se volkslied voor `n rugbytoets te sing.

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie het gister aangekondig dat die Wallies-gebore sopraan Elin Tomos, wat nou in Nieu-Seeland skoolhou,  Wallis se volkslied, Hen Wlad Fy Nhadau (Land of My Fathers), voor die drie komende toetse tussen die All Blacks en Wallis sal sing.

Tomos is baie opgewonde daaroor, sê dis ‘n droom wat vir haar bewaarheid word.

Die meeste sangers maak `n sukses daarvan en kry `n regmerkie op hul CVs, maar ander word om heel ander redes onthou.

Trouens, daar loop baie min Suid-Afrikaners rond wat nie vir Ras Dumisani “ken” nie.

Wie kan nog onthou wat die telling in die toets in 2009 tussen die Bokke en die Franse in die Munisipale Stadion in Toulouse was? (Die Bokke het met 13-20 verloor … ná ‘n bietjie naslaanwerk.)

Maar vra almal of hulle dié reggae-sanger, wat in Durban gebore is,  onthou en die antwoord is ja, omdat hy die SA volkslied  opgefoeter het.

Só ook Ard Matthews, voorsanger van die Just Jinger, wat by aan die aankondiging van die Springbokspan voor die 2011-Wêreldbekertoernooi die woorde vergeet het.

Hulle hoef nie sleg te voel nie, want wêreldberoemde sangers soos Michael Bolton (hy moes die woorde van die Amerikaanse volkslied op sy handpalm skryf om dit te onthou), Steven Tyler, R Kelly, Josh Groban en Christina Aguilera het die Amerikaanse volkslied ook al opgefoeter.

Die Amerikaners hou daarvan om hul volkslied te sing – om elke moontlike hoek en draai, soos by  bofbal-, sagtetbal-, basketbal-, Amerikaanse voetbalwedstryde en Indianapolis 500-renne.

Dit het oorgewaai na Suid-Afrika en die volkslied word nou ook oral gesing … soos voor Varsitybeker-wedstryde.

In die ou dae is Die Stem (in rugby) net voor toetse gespeel en dan het die hele Loftus of Ellispark saamgesing, onder begeleiding van die blaasorkes van die Gevangenisdiens, SA Polisie of SA Weermag. Die orkeste het voor die afskop ook kans gekry om `n paar marse te speel, ná drie of vier voorwedstryde en `n gimnastiekvertoning deur Hammanskraal se aspirant-polisiemanne.  So nou en dan het Polisie se honde-eenheid ook gewys hoe skelms ingehardloop en platgetrek word en hoe dwelms uitgesnuffel word. Lekker man, lekker!

En toe kry iemand die idee om die blaasorkeste met valskermspringers te vervang. Ses of sewe van hulle wat by elke geleentheid op Loftus of Ellispark se vaal gras geland het en die rugbypale rakelings gemis het – sommer met die afskopbal in die hand.

En toe volg die Impi … en wat is volgende?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.