Wie sal jy in die Bokke se nommer 8-trui kies?

Warren Whiteley – terug tussen die Lions (Foto: Steval Pumas)

Warren Whiteley of Duane Vermeulen?

Voor Saterdag se rugbytoetswedstryd tussen die Springbokke en All Blacks in Wellington was Vermeulen se paadjie uitgestippel om by Whiteley oor te neem wanneer die Bokke aan die einde van die jaar deur Europa toer om teen Engeland, Frankryk, Skotland en Wallis te speel.

Daar was selfs sprake dat Vermeulen, wat ná die Engelse reeks verkies het om vir die Kubota Spears in Japan te gaan speel (voordat hy aanstaande seisoen na Suid-Afrika [die Blou Bulle in Pretoria] terugkeer) vir die toetswedstryd teen die All Blacks vrygestel sou word.

Niemand kan dit betwis nie, Vermeulen is een van die ysters van wêreldrugby en sy leierskap en ervaring het die deurslag gegee toe die Bokke die Engelse toerspan met 2-1 in die reeks in Junie getroef het.

Whiteley, wat lank beseer was en in Vermeulen se skaduwee moes speel, het nie werklik oortuig teen die Poemas (twee toetse) en Wallabies nie.

Baie kenners het gesê hy raak weg wanneer dit warm raak, en hy is te “klein” vir die All Blacks.

Maar Saterdag kort ná rustyd, toe hy met die verantwoordelikheid opgesaal is om by Siya Kolisi as kaptein oor te neem, het sy ware kleure na vore gekom.

Ja, Pieter-Steph du Toit is oral geloof vir sy uithalervertoning op die verdediging. Hy hét immers reeds 61 teenstanders platgetrek in die Rugbykampioenskap, maar toe steek Whiteley vir almal wat hom afgeskryf het, tong uit.

Hy het naas Du Toit en die Poemas se Marcos Kremer (52) reeds 50 suksesvolle duikslae in die Rugbykampioenskap uitgevoer.

Hy het Saterdag minstens twee drieë gekeer toe hy TJ Perenara, die plaasvervangerskrumskakel, wat op pad doellyn toe was, ingeloop en platgetrek het. Hy en twee ander Bokke het ook kort voor die einde Damian McKenzie net duskant die doellyn geduik.

Hy het die Bokke bymekaargehou, hy het hulle moed ingepraat, veral toe Willie le Roux met ʼn geelkaart afgestuur is en die Bokke met net 14 spelers moes walgooi.

Whiteley was saam met Du Toit die gom wat die Bokke se verdediging aanmekaar gehou het. Hulle het die All Blacks agteruit geduik en gesorg dat die Bokke een van hul roemrykste oorwinnings in Nieu-Seeland behaal het toe hulle met 36-34 gewen het.

Nou is die vraag: as Whiteley op dié vertoning voortbou, sal dit geregverdig wees om Vermeulen bo hom te kies?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

nico k ·

Duane is beslis beter. Whiteley mag dalk ‘n goeie toets gehad het, maar mens moet iemand oordeel oor meer as een wedstryd. En hy het nie genoeg gedoen in die ander toetse nie.

Henk ·

Wat hang almal so aan du Toit( op slot ja op flank NEE) en Flou Louw???

Provinsie ·

As jy Leeus ondersteun is Whiteley die man. As jy Stormers skree is Duanne die man. As jy Natal skree is du Preez die man. Niemand sal ooit gelukkig wees nie – net solank ons aanhou wen!! Whiteley het darem nog nooit nee gesê vir die Springboktrui nie!

Wesley ·

Albei in tandem wat aflos by mekaar, afhangend van die spelpatroon en opposisie. Hoekom moet dit een of die ander wees? Almal glo as ons so hard speel en “rush” op verdediging sal ons enige span kan troef, maar Argentyne byvoorbeel is baie goed om verby daai taktiek te kom. Ek is baie bly om die diepte te sien op agsteman en hul sal dit makliker maak op mekaar in vandag se propvolle toets kalender.

Deon Steyn ·

Ek wil net weet wanneer is iemand n “rugby kenner” en wie is die sogenaamde kenners eaarvan die outeur praat. Ek dink hy stel bloot sy eie opinie en lieg dat baie rugby kenners oor die aangeleentheid praat.

Neels ·

Duanne kan maar in Japan bly. Ons het hom nie hier nodig nie. Hy verkies mos soos baie ander n klub bo sy land.

Piet ·

Nee neels dis nou nie reg nie, ek dink wel Warren is die man, maar om te se ‘n man verkies sy klub bo sy land net omdat hy daar gaan ruby speel is nogal kras. n Rubyspeler verdien geld net solank as wat hy kan speel. Hul inkomste is soms maar van kote duur. Wat as hy net een “game” speel en dan word hy nie weer gekies nie? Dis sulke tipe lojaliteit wat n mens eendag pennieloos laat.

Spike ·

Wat van du Toit op nr 8, Siya op 7 en M v Staden op 6. Vermeulen het sy rug op bokke gedraai. Los hom uit.

wolla ·

As jy werklikwaar nie die verskil in gehalte tussen Vermeulen en Whiteley se spel sien nie dan weet ek wragtig nie. Dis soos om briljant met gemiddeld te probeer vergelyk.

Swartwolf ·

Sal twee van die los trio verander. Du Toit bly, Kriel en Vermeulen speel. Kry ander kaptein. Smit, Whiteley of Van Staden op die bench.

Andre Ackerman ·

Warren is in sy eie reg n goeie speler, sal nie graag wil kant kies nie, hy bring sy kant!

Albert ·

Warren is n natuurlike agsteman en Vermeulen weer n natuurlike sewe dus is daar nie n ander keuse nie. Ek stem saam Vermeulen kan maar gaan ons het baie diepte in los voorspelers dieselfde met Louw. Warren is n baie beter kaptein as almal wat nou die laaste tyd kaptein gespeel het want hy bring kalmte en motiveer elkeen om net beter te speel, die bewys is Saterdag teen AB gegee

Loutjie ·

Warren Whiteley is die beste nr8 in SA. Duane Vermeulen is n uitstekende rugbyspeler. Duan is nie n goeie nr 8 nie.
Warren op 8, Duan op 7.
Ek ken agtseman spel, self daar gespeel op provinsiale vlak.

Boerseun ·

As Duane beskikbaar is, altyd Duane. Ek rate hom die beste 8 in die wêreld. Ons het nie baie wat die bestes is in hulle posisies nie. Dalk net Marx en Duane en hulle moet speel.

Rinkhals ·

Du Toit, Vermeulen en Kriel in die begin span. Smit of Van Staden op die bank.

LeQlerq ·

Beste lostrio, Duane, Marcel Coetzee en Heinrich Brussouw met Jean-Luc du Preez as ekstra.

Louise Viljoen ·

Warren is by verre ‘n beter kaptein as Duanne. Met die Bok, All Black game was daar ‘n onmiddelike verandering toe Warren die leisels oorgevat het.

Piet ·

Nee neels dis nou nie reg nie, ek dink wel Warren is die man, maar om te se ‘n man verkies sy klub bo sy land net omdat hy daar gaan ruby speel is nogal kras. n Rubyspeler verdien geld net solank as wat hy kan speel. Hul inkomste is soms maar van kote duur. Wat as hy net een “game” speel en dan word hy nie weer gekies nie? Dis sulke tipe lojaliteit wat n mens eendag pennieloos laat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.