Wie speel teen wie in Reënboogbekerreeks?

Foto: GB Jordaan.

Daar wag ʼn steil hekkie op die Bulls, Sharks, Stormers en Lions wanneer hulle van aanstaande seisoen af in die Pro16-reeks speel.

Dit is hoekom Jake White, die Bulls se afrigter, by die Suid-Afrikaanse rugbybase gepleit het om spanne toe te laat om hul spelerspense verder aan te vul om aan die hoë eise te voldoen.

Neem nou maar die voorbeeld van Ulster wat Saterdag in die Europese Reënboogbekerreeks met ʼn erg verswakte span moes speel, maar steeds daarin kon slaag om Edinburgh met 34 – 31 te klop.

Ulster moes sonder 13 spelers klaarkom wat in self-isolasie is oor die Covid-19-pandemie en boonop kon sewe ander spelers (onder wie Marcell Coetzee wat intussen vir die Bulls speel) weens beserings nie oorweeg word nie.

Maar Ulster het deurgedruk en steeds gewen.

Elders in die Reënboogbekerreeks het die Glasgow Warriors die agterdeur oopgehou om oor twee weke teen die Bulls of Sharks in die Noord-teen-Suid-eindstryd in Treviso te speel.

Glasgow het Leinster Vrydagaand met 15 – 12 geklop en loop met 19 punte voor in die reeks.

Maar Benetton, wat komende Saterdag hul bepalings teen die Walliese Ospreys afsluit, is tweede met 18 punte en sal eerste eindig as hulle wen of ʼn bonuspunt verdien.

Munster (15 punte) moet sy bepalings teen Zebre afsluit en kan ook met ʼn bonuspunt-oorwinning bo eindig om ʼn moontlike uitspeelwedstryd af te dwing.

Die Cardiff Blues het hul bepalings met ʼn sege van 37 – 12 oor Zebre afgesluit.

* In die Engelse Premierliga het die Sale Sharks (wat vyf Springbokke in Jacques Nienaber se Springbokgroep opgelewer het) tot die tweede posisie opgeskuif met ʼn oorwinning van 45 – 12 oor Harlequins. Dié keer was dit nie een van die Du Preez-broers wat ʼn geel kaart gekry het nie, maar Faf de Klerk.

* Die Bristol Bears het met ʼn naelskraapse sege van 26 – 23 oor die Leicester Tigers, vir wie die nuwe Springbok Jasper Wiese speel, seker gemaak van ʼn tuishalfeindstryd.

Maar die wedstryd is ontsier toe die spelers mekaar gegryp het nadat die eindfluitjie geblaas het en die twee afrigters, Steve Borthwick (Leicester) en Pat Lam (Bristol), in ʼn hewige woordewisseling betrokke was.

Bristol sal na alle waarskynlikheid teen die Sale Sharks in die een halfeindstryd tuis speel.

* In Suid-Afrika stuur die reeks af op ʼn tweestryd tussen die Bulls (20 punte) en Sharks (16), gevolg deur die Stormers (13) en Lions (8).

Die Sharks speel Saterdag in die laaste reeks wedstryde in Durban teen die Bulls en die Stormers sluit in Kaapstad af teen die Lions.

Die groot vraag is: Met die Springbokgroep wat reeds aangekondig is en daar ʼn eindstryd teen waarskynlik Benetton in Treviso op die wenner wag, met hoeveel passie gaan die Sharks en Bulls speel?

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.