Wie speel wanneer en waar teen mekaar?

Daar gaan Vrydag en Saterdag ʼn groot geskarrel wees om vlugte vir ʼn rits spanne te reël vir die kwarteindrondes van vanjaar se Supperrugbyreeks.

Met net een reeks wedstryde in die uitspeelrondes oor, is daar nog geen duidelikheid watter spanne gaan wanneer, waar en teen wie speel nie.

Wat wel seker is, is dat die Crusaders (63 punte) of Lions (61) bo-aan die puntelys gaan eindig. Ook dat die Stormers (39) en Brumbies (34) tuiswedstryde in die kwarteindronde sal hê.

Maar die res? Wag maar tot Saterdagmiddag.

Die Crusaders speel Saterdagoggend in Wellington teen die Hurricanes (54), wat lotsbepalend vir albei spanne kan wees.

Wen die Crusaders, eindig hulle bo-aan die puntelys en kom hulle aanstaande Saterdag in Christchurch teen die Sharks te staan. Verloor die Crusaders, sal hulle tweede na die Lions wees en tuis teen die Highlanders speel. Dit sal beteken dat hulle na Johannesburg vir ʼn moontlike eindstryd sal moet reis.

As die Hurricanes wen, kan hulle bo die Chiefs (53) eindig, wat Vrydagoggend teen die Brumbies in Hamilton speel.

Een van die Chiefs of Hurricanes moet dan aanstaande week na Kaapstad reis waar hulle op Nuweland teen die Stormers speel. Die boonste van hierdie twee Nieu-Seelandse spanne kom teen die Brumbies in Canberra te staan.

Suiwer uit ʼn rugbyoogpunt, teen wie wil jy speel? Teen die sukkelende Brumbies of die Stormers om tot die halfeindronde deur te dring?

Die Lions sal ook tot Saterdagoggend moet wag om te hoor wie sy teenstander in die kwarteindronde sal wees.  Die Sharks (42) kan nog bo die Highlanders (46) eindig, maar wie sal geld daarop wil waag dat die ploeterende Rebels die Highlanders Vrydagoggend in Dunedin sal klop?

Dit kan beteken dat die Sharks en die Lions mekaar twee keer binne twee naweke pak. Eers op Kingspark die naweek en dan op Ellispark.

Na die afgelope naweek staan sake soos volg nadat al die spanne 14 wedstryde gespeel het. 1 Crusaders (63 punte), 2 Lions (61). 3 Stormers (39). 4 Brumbies (34). 5 Hurricanes (54). 6 Chiefs (53), 7 Highlanders (46), 8 Sharks (42).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.