Wie was die voorste appelswaaier in Suidoos-Transvaal se rugbygeskiedenis?

Faantjie Coetzer slaan George Minnaar plat in ’n klubwedstryd. Foto: Tobie van den Bergh.

Wanneer jy die naam Kat Smit in die tagtigerjare op ’n spanlys raakgelees het, het rugbyliefhebbers geweet daar sal hope aksie op die veld wees.

Daar was weliswaar ook verskeie ander kandidate om die titel as Appelswaai-koning in hierdie rof en onbeskofte tye te dra.

Suidoos-Transvaal se agsteman en kaptein, Menanteau Serfontein, het by geleentheid gesê hy het gedink die Oostelike Provinsie se klubrugby was wild, totdat hy op Witbank beland het.

Só erg het dit gegaan dat skeidsregters geweier het om in klubwedstryde op te tree.

Een man wat nie spelers se nonsens gevat het nie, was skeidsregter Salie Pienaar. Tydens ’n wedstryd tussen Witbank en Belfast het die Springbokflank, Polla Fourie, vir Pienaar geskel. Hy het ’n strafskop op die middellyn toegeken. Fourie het hom weer geskel: Strafdrie. Ná die afskop is Pienaar weer geskel: Strafskop op die middellyn. Weer ’n swetsery: Strafdrie! Ná die derde strafdrie het Fourie nie weer geswets nie. Witbank het steeds die wedstryd verloor.

Een van Fourie se berugte spanmaats was Willem Smit. Wedstryde by die “Langbome”, soos Belfast se veld bekend gestaan het, was oorlog. Tydens ’n kragmeting tussen dieselfde klubspanne het Smit vir die vleuel, Boerpens Strydom, op die grond getrap. Die flank, Terence Moll, wat die helfte van Smit se lengte was, het soos ’n verwoede bul op hom afgestorm; arms al swaaiende. Twee tandmerke in sy vuis wys vandag nog waar die groot slot se tande in is.

Moll was ook in ’n wedstryd tussen Witbank en Alberton effens humeurig oor die feit dat die slot, Kevin de Klerk, elke bal by Vleis van Zyl afvat. Hy het langs De Klerk gaan stelling inneem, met die flank Tonie van Tonder agter hom. Dit was soos Dawid teen Goliat. Moll het Van Tonder gesmeek: “Bring hom af dat ek hom kan bykom, bring hom af…”.

Op die Kees Taljaard-stadion in Middelburg het skeidsregter Gert Meyer genoeg gehad van Middelburg en Ferrometals se tweede spanne: Die voorspelers wou net nie ophou baklei nie. Hy het net daar al 16 voorspelers afgejaag. Hierna het ’n komiese oomblik gevolg. Die skrumskakel wou nie op voorry sak nie, die vleuel het gesê hy speel nie haker nie en die senters wou ook nie skrum nie. Nadat die agterlyne nie kon besluit wie die voorspelers is nie, is die wedstryd afgelas.

Naas Kat Smit was daar nog ’n naam wat oor die wêreld heen weerklink het as ’n vuil uil: Marius Bosman. Hy het die Britse Leeus se slot, Doddie Weir, se knie in 1997 op Witbank afgeskop. Die Britse media was woedend en wou Bosman braai.

Daar kan lank gestry word oor die vuilste geveg nóg. Tonele soos dié in 1974 tussen Suidoos-Transvaal en die Franse span Tarbais op die Johan van Riebeeck-stadion sal nie gou weer gesien word nie. Die vuiste het geklap en die Franse het soos kapokhane in die lug gespring om die tuisveld-spelers te skop. Slot Ben Badenhorst het later vertel dat toe die geveg bedaar het, hy met ’n stuk van ’n Fransman se baard in sy hand!

Maar daar was nie net beserings in gevegte nie. Soms het spelers hulself op ongewone wyse beseer. Die haker van Belfast, Jacques de Wet, het in ’n wedstryd teen Amersfoort in 1991 soos ’n besetene gespeel en by losskrums ingeduik. By geleentheid het die Belfast-slot, Trichardt Smit, saam met hom momentum opgebou op pad na ’n losskrum. Albei is bo-oor die losskrum, binne die Mercedes van suster Ria Smit van die Amersfoort Hospitaal in. Glasstukke het gespat.

De Wet het die hooflig flenters geduik en Smit het korte mette met die buffer gemaak.

Suster Smit was ook die dag die noodhulpbeampte en het die bloed van De Wet se gesig afgespoel. Dit was eers toe dat hulle die snywond sien: Van sy ken af, al langs sy gesig op, tot net bokant sy oor. Meer as 43 steke was nodig om die wond toe te werk.

Die Mercedes het R 4 000 se skade gehad.

  • Saterdagaand word daar op Nelspruit feesgevier om die unie se 50ste bestaansjaar te vier.
  • Spelers en beamptes kan vir Richard Cooke (kaptein van die Suidoos-span wat in 1983 die WP in ’n Lionbeker-kragmeting geklop het) by 083 263 6938 bel. Andersins kan Tobie van den Bergh ook by 072 220 1568 gebel word. Stuur e-pos na [email protected].
  • Tobie van den Bergh is die redakteur van die Middelburg Observer en het vergunning gegee dat die storie geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Viss ·

Ek het baie van die spelers geken as ñ kannetjie…………was baie lekker om weer van hulle te lees. Ermelo bo.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.