Wiese begin vir Bokke teen Leeus

Jasper Wiese draf Saterdag op agtsteman vir die Springbokke teen die Britse en Ierse Leeus uit. Foto: Twitter.

Dit is Saterdag maak of breek vir die Springbokke in die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad.

’n Springbok-sege sal beteken dat die reeks lewendig bly, maar as hulle sou verloor sal die vreugdevure in die Leeuskamp lánk brand en die Suid-Afrikaners sal 12 jaar moet wag voordat hulle die reeksoorwinningvlamme kan blus.

Die Leeus het die eerste toets met 22-17 gewen nadat hulle takties slimmer en sterker as die Bokke in die tweede helfte was.

Nou het Jacques Nienaber-hulle ’n paar veranderinge aan die span aangebring in ’n poging om die kastaiings uit die vuur te krap.

Frans Malherbe en Steven Kitshoff sal saam met Bongi Mbonambi die Suid-Afrikaanse skrum anker, terwyl Jasper Wiese vir die beleërde Kwagga Smith op agtsteman vervang.

Steven Kitshoff sal in sy 50ste wedstryd vir die Springbokke speel. Foto: GB Jordaan.

Daar is ses voorspelers (Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Lood de Jager, Marco van Staden en Smith) op die plaasvervangsbank en Nienaber sal hoop dat hulle vir die nodige spierkrag in die tweede helfte sal sorg.

“Ons sal hierdie week in alle opsigte moet verbeter en die vaste fasette speel ’n belangrike rol om ’n goeie grondslag vir ’n doeltreffende wedstrydplan te lê. Ons was teleurgesteld in ons vertoning verlede week en ons sal met ’n vurige vertoning weer ons pad in die reeks wil oopveg,” het Nienaber gesê.

Ben O’ Keefe van Nieu-Seeland sal in beheer van die wedstryd wees, met Nic Berry en Mathieu Raynal sy assistente. Marius Jonker is weer op sy pos as die televisieskeidsregter.

Intussen word boodskappers wyd en syd in Brittanje uitgestuur om die nuus te verkondig dat Warren Gatland die beste rugbyafrigter ooit is. Selfs in Nieu-Seeland word daar onderlangs gebrom dat hy die voorste breier is wat die land nóg opgelewer het.

Warren Gatland. (Foto: Anne-Christine POUJOULAT/AFP)

Tog verwag Gatland weer eens ’n taai stryd in die tweede toets.

“Ons weet dat die Springbokke alles in die stryd sal werp om die bordjies te verhang, maar terselfdertyd glo ek dat ons ook beter kan speel en na ’n hoër rat kan skakel. Dit is die grootste wedstryd van die toer en ons kan moontlik die reeks beklink,” het Gatland gesê.

Die Leeus het ook ’n paar veranderinge aan hul beginspan aangebring.

Maku Vunipola, Conor Murray en Chris Harris sal eerste op die veld draf, terwyl Rory Sutherland, Ali Price en Elliot Daly hul beurte op die plaasvervangersbank sal afwag.

  • Die wedstryd skop Saterdag om 18:00 af en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Lood de Jager, Marco van Staden, Kwagga Smith, Herchel Jantjies en Damian Willemse.

Britse en Ierse Leeus: Stuart Hogg (heelagter), Anthony Watson (regtervleuel), Chris Harris (buitesenter), Robbie Henshaw (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Dan Biggar (losskakel), Conor Murray (skrumskakel), Jack Conan (agtsteman), Tom Curry (flank), Courtney Lawes (flank), Alun Wyn Jones (kaptein en slot), Maro Itoje (slot), Tadhg Furlong (stut), Luke Cowan-Dickie (haker) en Mako Vunipola (stut). Plaasvervangers: Ken Owens, Rory Sutherland, Kyle Sinckler, Tadhg Beirne, Taulupe Faletau, Ali Price, Owen Farrell en Elliot Daly.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Afriperd

Toe Kolisi begin rugby speel het was hy goed en het hom ondersteun, nou vandat hy kaptein is sien mens hom nêrens nie, een keer met die bal gehardloop en een tackle gemaak in die hele game, eerste 6 minute het ek gedink ons speel met 14 mans want het hom glad nie gesien nie. Hoe moet mens speel as jou een vlank niks doen nie en die ander een en agtste man moet al sy werk vir hom doen.

piet

Hierdie is ‘n beter span. Regte ding gedoen met die betrokke voorry wat begin.

SjN

Daar is nie n leier om die sogenaamde bom squad se lont aan te steek nie .

Niklaas

Ek is verlig dat ou Kwagga nie daar is nie. Selfs Marco op reserwebank is groot verbetering. Dan moet die TMO , Jonker minder vir die Britse span probeer behaag. So, kan ons dan wen, ons moèt wen.

Manie

Volgens die spanlys kies hulle vir Nyakane uit posisie as loskop reserwe?