Willem Alberts beseer; Whiteley in Bokgroep

Warren Whiteley (foto: sarugby.co.za)

Warren Whiteley (foto: sarugby.co.za)

Die Goue Leeus het Saterdag hulle kaptein en agsteman Warren Whiteley verloor, hoewel hy nog teen die OP Kings uitgedraf het. Maar

hulle sal saam met die effense teleurstelling baie bly wees dat die sewes-Springbok nou ook in die plek van die beseerde flank Willem Alberts opgeroep is na die Springbokgroep.

Alberts is Saterdagoggend onttrek aan die toetsspan wat later die middag teen die Argentynse Poemas moet speel. Marcell Coetzee is toe aangewys om hom in die opdrafspan te vervang en Oupa Mohoje is weer in sý plek op die bank aangewys.

Alberts het sy dyspier in die kapteinsoefening Vrydagmiddag beseer en is tot Saterdagoggend kans gegee met die hoop dat hy sou kon  speel.

Twee van die drie groot indoenas, letterlik en figuurlik, by die Goue Leeus, die president Kevin de Klerk en die hoof uitvoerende beampte Rudolf Straeuli, het Whitely met die uitnodiging na die Springbokgroep gelukgewens.

“Ons sal hom gewis mis, maar ons is vir sy onthalwe bly. Ons het Warren die afgelope jare hier by ons sien groei en hy verdien dit terdeë,” het De Klerk gesê.

Straeuli se boodskap was eenvoudig: “Ons is baie trots op Warren en dat nog een van ons spelers na die  nasionale span opgeroep is. Ons wens hom alles van die beste toe by die Springbokgroep.”

Met die Goue Leeus wat later Saterdag teen die OP Kings moes speel, kon die GLRU se derde yslike groot oud-Springbok, die slot Johann Ackermann, nie op die oproep vir sy kaptein se dienste by die Bokke reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.