Willie John ʼn man uit een stuk

Willie John McBride

ʼn Hele paar jaar gelede, toe die Blou Kamer-restaurant nog op die Johannesburgse stasie bestaan het, het die gewese Britse en Ierse Leeus-kaptein Willie John McBride, sowat 100 gaste uit sy hande laat eet.

Kom ons begin by die Blou Kamer.

Dit was ʼn deftige restaurant, een van die heel beste, indien nie die beste nie, in Johannesburg.

Dit was so half onder die grond aan die suidekant van die stasie. Daar het groot Pierneef-skilderye en muurbehangels gehang (ek wonder wat het van hulle geword), egte silwer eetgerei, stywe spierwit tafeldoeke en servette, spierwit borde met ‘n SAS- en SAR-logo daarop, kristalglase vir sjerrie, witwyn, rooiwyn en port.

Dit was van die land se beste sjefs wat tussendeur ook op die Blou Trein die feesmale voorberei en bedien het. Sop, vis, tussengereg, sorbet, hoofgereg, nagereg en kaas en beskuitjies.

Die tafel was dus letterlik en figuurlik gedek vir McBride om lede van die Johannesburgse Persklub toe te spreek.

Ná sy bekendstelling, het McBride opgestaan, ʼn paar laaste teue aan sy pyp gegee (rook was toe nog nie taboe nie) en gevra wat ons wou hoor, want ons was die eregaste en hy die draer van boodskappe.

Hy was ʼn blok van ʼn man met ʼn reguit ken, dimpels en blomkoolore.

Hy het staaltjies vertel oor hoe hy as kind op sy oorlede pa se plaas moes uithelp en eers op 17 begin rugby speel het. Oor sy 17 toetse (die meeste nog deur enige speler) vir die Britse Leeus, oor sy wedevaringe in Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië, oor spangees, kameraderie en taktiek.

Oor die 1974-toer na Suid-Afrika toe hulle in 22 wedstryde onoorwonne was (die laaste toets was gelykop), oor die 99-roep wat die Springbokke op hol gehad het (dit was ʼn teken dat al die spelers moes instorm, skop, slaan en baklei, want die skeidsregter kon mos nie al die spelers afjaag nie), oor Dok, Frik en Moaner, oor sy gesin in Ierland.

Die spreekbeurt van 45 minute het ʼn uur geword, die een uur byna twee.

En toe sluit hy af met sy “spanpraatjie” voor die eerste toets in 1974 op Nuweland.

Hy was tjoepstil, ʼn hele paar minute lank.

Niemand het gepraat nie, nie by die ete in die Blou Kamer nie, en ook nie destyds vir 20 minute lank op Nuweland nie.

Kan Warren Gatland hom vanjaar dit nadoen?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae