Willie John het baie vriende, en vyande, op toer gemaak

Willie John McBride. Foto: Twitter.

Willie John McBride, een van Suid-Afrika se grootste rugbyvriende wat nooit toegelaat het dat politiek die botoon op die rugbyveld voer nie, het onlangs die 80-jaarkerf verbygesteek.

Wanneer jy van McBride praat, noem jy hom in dieselfde asem as Frik du Preez, Johan Claassen, Avril Malan en Kevin de Klerk, almal slotlegendes wat saam en teen hom gespeel het.

McBride het Ierland in 63 toetse verteenwoordig, waarin hy 17 keer die kaptein was.

Maar Suid-Afrikaners sal hom veral onthou as kaptein van die Britse Leeus-toerspan van 1974, wat die Bokke met 3-0 in die reeks van vier toetse geklop en 21 wedstryde van hul 22 wedstryde op toer gewen het, met slegs die vierde toets gelykop.

McBride was op vyf Leeus-toere, in 1962, 1968 en 1974 na Suid-Afrika en in 1966 en 1971 na Australië en Nieu-Seeland.

McBride hou steeds die rekord van 17 toetse vir die Leeus, een wat waarskynlik nooit sal spat nie.

Voor die toer in 1974 na Suid-Afrika was daar groot teenkanting, veral van die Britse Arbeidersparty met Harold Wilson as eerste minister.

Kort voor die span se vertrek het McBride die span byeengeroep, hulle gevra wie nie wil toer nie, hulle weer gevra en nog ʼn laaste keer gevra wie nie wil toer nie.

“Ek wil nooit ʼn gebrom op toer hoor nie, los dit vir die politici, ons wil rugby speel,” het McBride gesê.

Ek was bevoorreg om ʼn hele paar jaar gelede saam met McBride aan die hooftafel aan te sit toe hy die destydse Johannesburg Persklub in die ou Bloukamer-restaurant op die Johannesburg-stasie toegespreek het.

McBride, wat ʼn bankier van beroep in Belfast was, het wonderlike staaltjies vertel en tussenin eers ʼn paar teue aan sy pyp getrek (toe dit nog wettig was).

McBride het vertel hoe die span op pad na Loftus Versfeld vir die tweede toets “Flower of Scotland” gesing het toe die bus by Kirkness-weg ingedraai het.

Die hele span het bly sit, eers klaar gesing en toe opgestaan.

Skotte, Engelse, Iere en Walliesers.

“Ek het toe geweet hulle sou deur die spreekwoordelike muur hardloop,” het McBride gesê.

Ná die toets, wat die Leeus met 28-9 gewen het om ʼn onaanvegbare voorsprong van 2-0 in die reeks te neem, het die spelers ʼn “bietjie” handuit geruk.

McBride is die Sondag om 03:00 benoud wakker gemaak nadat een van die spelers die flank Tom David se bed by die venster van die ou Union-hotel uitgegooi het.

Boonop het die haker Bobby Windsor die brandslange gebruik om ʼn vuur in die gange te blus.

Die papnat bestuurder het gedreig om die onlustepolisie te bel, waarop McBride, geklee met net ʼn handdoek om sy lyf en pyp in die mond, gevra het: “Sal daar baie van hulle wees?”

McBride het ook vertel dat hy die berugte 999-roep uitgedink het om die teenstanders te laat weet dat die Leeus geen onsin sal duld nie.

Wanneer daar ʼn bakleiery sou uitbreek, sou McBride “999” skree en die hele span sou dan die vuiste ingelê het.

Die roep, wat die eerste keer teen die Oostelike Provinsie ʼn week voor die eerste toets gebruik is, is deur McBride tot “99” verkort “om nie tyd te mors nie”.

Die losskakel Phil Bennett, wat bra saggeaard is, was te bang om te slaan en het toe maar ʼn hou in die rigting van die baljoggie gemik, wat met twee voltreffers deur teenstanders beantwoord is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Net my ma se wenner-sjokoladekoek na die eindfluitjie kon daardie droewige Saterdae in 1974 éffe beter maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.