Willie uit, Willemse in teen Wallis

Damian Willemse begin op heelagter teen Wallis. Foto: Twitter.

Damian Willemse, Jesse Kriel en Herschel Jantjies is in die Springbokke se beginspan vir Saterdag se kragmeting teen Wallis in Cardiff.

Hulle vervang onderskeidelik vir Willie le Roux (uit die span gelaat), S’bu Nkosi (sukkel met paspoortprobleme) en Faf de Klerk (beseer).

Cobus Reinach, baie se gunstelingkeuse om De Klerk se skrumskakelskoene vol te staan, is saam met Elton Jantjies en Frans Steyn op die plaasvervangersbank. En volgens Jacques Nienaber, afrigter, is kontinuïteit weer eens die wagwoord as dit by spankeuses kom.

“Ons wil egter vir ander spelers ook ’n speelkans gee. Damian en Herschel was al ’n hele paar keer op die plaasvervangersbank en hierdie is ’n fantastiese geleentheid vir hulle om in die beginspan te wees; veral wanneer ons na diepte vir die 2023‑Wêreldbeker kyk,” het Nienaber gesê.

Volgens Nienaber is hy ook opgewonde om te sien wat die fisieke Kriel teen Wallis kan doen; ’n span wat die Bokke laas in 2013 in Cardiff kon klop.

Hoewel die Rooi Drake die afgelope naweek sleg teen die All Blacks verloor het, verwag die Springbokke ’n kwaai aanslag van die tuisspan.

“Hulle het ’n sterk pak voorspelers en baie ervare agterspelers; baie van hulle het ook vir die Britse en Ierse Leeus gespeel. Hulle sal ook meer gewoond aan die moontlike nat weerstoestande wees.”

Die Bokke weet egter hoe om wedstryde teen Wallis te wen – hulle het in 23 van hul 29 wedstryde teen die Rooi Drake geseëvier.

Die wedstryd begin Saterdag om 19:30 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Jesse Kriel (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Kwagga Smith (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Trevor Nyakane (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Franco Mostert, Jasper Wiese, Cobus Reinach, Elton Jantjies en Frans Steyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Ek sou liewer Frans Steyn op heelagter gesit het. Wat het Damian Willemse al gewys die paar maal wat hy op gehardloop het as plaasvervanger. Waar is Warrick Galant?

Dirk Mostert ·

Willemse. Ai tog! Gelukkig het die All Blacks die Wallisers vir ons saggemaak.

Harley Davidson ·

Hoe kan die beste span speel as hulle gekies word op velkleur wat hulle n kwota sisteem noem maar neerkom op rasisme.

Niklaas ·

Ons sal nou Saterdag sien hoe goed (of hoe swak) speler Willemse is. Ek was nog nooit beïndruk met hom nie. Beslis nie beter as Willie wat deesdae ‘n aantal af-dae beleef . Sou eerder Frans Steyn daar wou sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.