Die Bulls sal nie net vanaand die wind en weer moet tem nie, maar hulle sal ook op die uitkyk vir die tuisspan se groot oorsese huursoldate moet wees.
Peter Wilkins, Connacht-afrigter, beskryf die atletiese Leva Fifita as ’n “ongelooflike sterk individu” en ’n mens kan sien waarom hy so sê.
’n Vinnige soektog op Google wys dat die 32-jarige voorspeler 1,94 m in sy sokkies staan en 120 kg weeg. As jy na ’n speler gesoek het om die Pretorianers fisiek aan te vat, dan sal Fifita waarskynlik die antwoord wees.
“Benewens sy krag is hy ook uitstekend met die bal in die hand terwyl hy groot duikslae kan uitvoer. Ek dink sy atletiese vermoëns is die ding waarmee ons die meeste beïndruk is,” het Wilkins gesê.
Fifita maak weliswaar sy Connacht-buiging, maar hy het meer as 60 wedstryde vir Grenoble gespeel, terwyl hy ook al op die internasionale verhoog vir Tonga in aksie was.
“Hy is nie meer die jongste speler nie, maar hy is baie fiks en sy kondisionering is uitstekend. ’n Mens is dadelik bewus van sy teenwoordigheid wanneer hy by ’n vertrek instap.”
Dan begin Abraham Papali’i op agtsteman vir die Ierse klub – ’n 28-jarige Nieu-Seelander wat die skaal op 125 kg laat kreun.
Volgens die weerburo kan dit ’n koue en nat wedstryd op The Sportsground in Galway wees; iets waaraan die Pretorianers nie in Oktober gewoond is nie.
Arno Botha weet egter saam met spelers soos Marcell Coetzee en Bismarck du Plessis wat om te verwag – hulle het immers ervaring in Europese toestande.
“Daar word gesê dat ’n Galway-wedstryd met een in Kimberley vergelyk kan word, maar met ’n groot verskil: In plaas daarvan dat dit warm en droog sal wees, gaan dit koud en nat wees. Ons weet dat die Connacht-manne met ’n dringendheid sal speel en ons sal met ’n kliniese vertoning in die nat toestande vorendag moet kom,” het Botha gesê.
Die voormalige Springbok-losvoorspeler meen ook dat die Bulls net kan verbeter nadat hulle verlede week teen Leinster verloor het.
MOMENT 1 – The day the rugby world met Abraham Papali'i ???? ????
(Listen out for the reaction from one of the players ????)#ConnachtRugbyAwards #NeverStopCompeting pic.twitter.com/xwZnkPNxql
— Connacht Rugby (@connachtrugby) June 23, 2021