Windhoeksewes wys Blitsbokke van more uit

Die SA Sewesakademie se seëvierende o.18-span. (Foto: Saru)

Die SA Sewesakademie se seëvierende o.18-span. (Foto: Saru)

Lede van die SA Sewesakademie se o.18-span het by die Capricorn-groep en Windhoekgimnasium se sewestoernooi getoon hulle kan vorentoe vir die Blitsbokke uitdraf.

`n Mens kan aanvaar hy het reeds regmerkies agter ʼn paar name getrek as Marius Schoeman, die akademie se bestuurder, voorspel dat van die spelers vir die nasionale span kan uitdraf as hulle hul op sewesrugby toespits.

Ongeag min voorbereidingstyd omdat die spelers nog op skool is, het die span al ses sy wedstryde gewen, en slegs vier drieë afgestaan – almal in die rondomtaliestryd teen Namibië.

“Daar is ʼn paar uiters talentvolle spelers in die groep,” het hy gesê, en daarop gewys dat dit die akademie se taak is om die volgende geslag spelers vir die nasionale span te vind, te koester en te ontwikkel.

“Ek glo [die toernooi] het ons ʼn goeie blik met die oog op daardie toekoms gebied.”

Schoeman meen die span se rotsvaste verdediging was een van die hoogtepunte van die uitstappie Windhoek toe, en bestempel die keerwerk in die eindstryd teen Namibië as “briljant”.

Hy sonder dit uit as een van die beste vertonings deur ʼn o.18-span wat hy al gesien het.

Die toernooi is ter inwyding van Windhoekgimnasium se kunsrugbyveld deur die internasionale sportpromotor Willem Strauss aangebied.

Schoeman is vol lof vir die puik veld en die knap organisasie van die toernooi.

SA Akademie se o.18-uitslae –

Klop Duitsland met 49-0; klop Zambië met 61-0; klop Botswana met 58-0; klop SA All Stars met 21-0; klop Namibië met 35-24; klop Namibië met 45-0 (eindstryd).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.