Windmakerigheid raak groot verleentheid vir Bok

Windmakerigheid het Saterdag tot ʼn groot verleentheid vir ʼn Springbok in die kwarteindstryd van die reeks om die Europese Kampioenebeker in die Avivastadion in Dublin gelei.

Die Engelse klub Wasps se linkervleuel, Willie le Roux, het die bal verloor toe hy in die 24ste minuut van die wedstryd teen Leinster met groot vertoon oor die doellyn geduik het.

Die Ierse provinsie was op daardie tydstip slegs met 8-3 voor, en Le Roux word daarvoor verkwalik dat hy Wasps se enigste kans om ʼn greep op die wedstryd te kry, verbrou het.

Leinster het uiteindelik met 32-17 gewen, en Wasps se rugbydirekteur, Dai Young, sê onomwonde op Europese Beroepsklubrugby (EPCR) se webwerf ʼn mens verwag van ʼn speler van Le Roux se gehalte om [in só ʼn geval] punte aan te teken.

♦ Vir twee ander Suid-Afrikaners het die reeks egter groot vreugde opgelewer.

Die Ierse provinsie Munster, wat deur die Springbok Rassie Erasmus afgerig word, het die Franse klub Toulouse op Thomond Park, Limerick, met 41-16 oorrompel om van ʼn tuishalfeindstryd seker te maak.

Die gewese Blou Bul CJ Stander het een van die wenspan se drieë gedruk nadat hy van ʼn losskrum vyf meter van die doellyn weggeskil het.

Stander, wat Woensdag 27 word en Ierland sedert verlede jaar in 15 toetse verteenwoordig het, word as ʼn gewisse keuse vir die Britse en Ierse Leeus se toer later vanjaar na Nieu-Seeland beskou.

Die Samoaanse toetsspeler, Paul Perez, wat Curriebekerrugby vir die Natal Sharks en die OP Kings gespeel het, het Toulouse se enigste drie gedruk.

Europese Pro12-liga

♦ In die Europese Pro12-liga het die gewese Lions- en Cheetahs-speler Derick Minnie ʼn drie vir die Italiaanse klub Zebre gedruk in die agteros se verrassende sege van 25-22 oor die verdedigende kampioen, die Ierse provinsie Connacht.

Minnie se vreugde is egter gedemp toe hy later in die wedstryd in Parma met ʼn geel kaart van die veld gestuur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HENNIE NEUHOFF ·

Hierdie gebrek aan konsentrasie om die drie te druk nadat die speler reeds die doellyn oorgesteek het, kom al hoe meer voor. Onlangs het dit met Basson van die Stormers ook gebeur en so ook in van die ander Super wedstyde. Oor Willie le Roux sin kan ek net lag, hy het mos maar ‘n windvermakige houding, ek geniet dit as so n tipe verleentheid iemand met so n houding tref!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.