Wink olé-krete weer vir Blitsbokke?

JC Pretorius lewer deesdae die een skittervertoning na die ander. (Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Ná ’n rits titels en onoorwonne wedstryde ry die Blitsbokke tans op die kruin van die internasionale sewesgolf.

Toegegee, hulle het taamlik lanklaas teen Nieu-Seeland gespeel, maar Neil Powell se span wen deesdae gereeld ses wedstryde agtereenvolgens om met die toernooi-silwerware weg te stap.

Met die wêreldwye Covid-19-pandemie wat steeds ’n invloed op die internasionale sportkalender het, het die Suid-Afrikaners die afgelope naweek na Spanje vertrek waar hulle aan twee toernooie in Malaga en Sevilla sal deelneem.

Die eerste toernooi begin reeds Vrydag in Malaga waar die Blitsbokke hulself in dieselfde groep as Skotland en Engeland bevind. Hulle sou ook teen Fidji, die Olimpiese gouemedaljewenspan, kragte gemeet het, maar die eilandmanne moes hulle weens positiewe Covid-19-gevalle aan die toernooi onttrek.

“Anders as vantevore speel ons nou in Spanje en nie in Australië of Nieu-Seeland nie. Ons is opgewonde oor die nuwe plekke, terwyl ons ook na die unieke uitdagings uitsien wat Skotland en Engeland bied,” het Siviwe Soyizwapi (kaptein) gesê.

Die Skotte en Engelse het in die laaste paar toernooie saam met Wallis onder die vaandel van Groot-Brittanje deelgeneem.

Ondanks die feit dat die Suid-Afrikaners hulle nou in die vreemde bevind, sorg die terugkeer van verskeie beseerde spelers (onder wie die opwindende Justin Geduld) darem vir ’n tikkie meer rustigheid.

Muller du Plessis sal egter weens ’n besering die Spaanse avontuur misloop, terwyl Ronald Brown ook ’n blaaskans geniet om volkome van ’n kniebesering te herstel.

“Dit is egter onnodig om veel aan ons wedstrydbenadering te karring, want die ouens wat tot die span terugkeer, is almal baie ervare spelers wat al vantevore vir ons in aksie was.”

En indien spelers soos JC Pretorius, Zain Davids en Soyizwapi weer vlamvat, kan die olé-krete beslis deur die stadion weergalm wanneer die Blitsbokke speel.

Die Suid-Afrikaners speel Vrydag om 14:12 hul eerste wedstryd teen Skotland en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Blitsbokke: Sako Makata, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Christie Grobbelaar, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Justin Geduld, Dewald Human, Siviwe Soyizwapi, Mfundo Ndhlovu en Darren Adonis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.