Winter staan White in Pretoria by

Russel Winter: Foto: Twitter.

Die voormalige losvoorspeler van die Cats en die Sharks, Russell Winter, sal een van Jake White se hulpafrigters in Pretoria wees.

Die 44-jarige het ook saam met die Blitsbokke sewesrugby by die Statebondspele in 1998 gespeel, terwyl hy ook as afrigter sy stempel op die spel afgedruk het.

Hy het die Vodacombeker saam met die Goue Leeus gewen en is sedert 2016 in die Kaap waar hy die Stormers se voorspeler-afrigter is.

Winter het ’n goeie verhouding met die soms omstrede White; die voormalige Springbok-afrigter het ’n beduidende rol in Winter se hoërskoolloopbaan by Jeppe Boys’ High gespeel.

“Die Bulls was nog altyd ’n spesiale span en hulle het sukses op die hoogste vlak gesmaak. Ek sien uit na die nuwe hoofstuk van loopbaan en ek sal alles binne my vermoë doen sodat die span nie net sukses op die speelveld smaak nie, maar ook hul ondersteuners trots maak,” het Winter gesê.

Op sy beurt was White opgewonde oor Winter se aanstelling.

“Ek het gesien hoe Russell van krag tot krag gaan; eers as speler en nou as afrigter. Ons het al lekker oor sy rol by die Bulls gesels en hy is opgewonde om die voorspelers onder sy vlerk te neem,” het White gesê.

White het onlangs onder kritici deurgeloop omdat hy die 37-jarige Gio Aplon nadergetrek het, maar die 25-jarige Warrick Gelant deur die Bulls se vingers laat glip het. Hy het egter met Winter raakgevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.