Wits trap Pukke se tjank af, Maties en Tuks verniel hul teenstanders

Die arme Ixias kon nie oral keer nie en het 14 keer agter hulle eie pale moes staan. (Foto GB Jordaan)

Die arme Ixias kon nie oral keer nie en het 14 keer agter hulle eie pale moes staan. (Foto GB Jordaan)

Maandagaand is die verdedigende kampioen se tjank in hul eie agterplaas afgetrap, Tuks het ’n 100-tal aangeteken en die Maties het hulle stem opnuut dikgemaak in die Varsitybekerreeks wat al hoe interessanter word.

Wits verras die Pukke

Uitstappies na Potchefstroom is selde ’n plesier vir besoekende rugbyspanne. Daar heers immers ’n atmosfeer wat gewoonlik besoekers se broeke laat bewe.

Maar Wits het die verdedigende kampioen, die Pukke, Maandagaand in die grootste opskudding van vanjaar se toernooi met 22-13 geklop.

Die Johannesburgers, wat duidelik nie deur die tuisskare geïntimideer was nie, het die grondslag vir die oorwinning voorlangs gelê, met die slotpaar van Rhyno Herbst en Graham Logan aan die spits.

Hoewel die Johannesburgers met die waterbreek met 7-13 agter was, het hulle nooit hulle koppe laat sak nie of ’n duim vir hulle meer beroemde teenstander teruggedeins  nie en sou toe steeds gevoel het hulle het ’n kans.

Wits het hulle soms aan ’n hanteerfout of twee skuldig gemaak, maar wanneer dit saak gemaak het, het hulle die nodige duikslae gemaak en die meters veld met die bal in die hand gewen wat hulle moes.

Julian Delicado, die Pukke se losskakel, sal die wedstryd waarskynlik so gou moontlik wil vergeet. Hy het met twee doelskoppe en twee strafdoele misluk.

Maar die neerlaag is nie sy fout nie, Wits was hongerder vir ’n oorwinning op die aand en hulle voorspelers het baas gespeel.

Puntemakers –

Pukke (13) 13: Drieë: Louis van der Westhuizen, Jimmy Mpailane. Strafskoppe: Julian Delicado.
Wits (7) 22: Drieë: Dean Lombard, Constant Beckerling, Manuel Rass. Doelskoppe: Lombard 2. Strafskop: Lombard.

Tukkies verneder Ixias

Dit was lekkr ondersteunende hardlooprugby, en Tuks se voorspelers het hulle deel tot die hardloopfees bygedra. (Foto: GB Jordaan)

Dit was lekker ondersteunende hardlooprugby, en Tuks se voorspelers het hulle deel tot die hardloopfees bygedra. (Foto GB Jordaan)

Tuks het Maandagmiddag gewys dat nie van hulle vergeet moet word as moontlike 2017-Varsitybeker-kampioen nie toe hulle die Ixias in Pretoria met 100-0 geklop het. Dit is ʼn rekordtelling in die tienjarige bestaan van  die reeks.

Toegegee, die teenstand was vrot, maar die manier waarop die Pretorianers die bal rondgegooi het om hulle 14 drieë te druk spreek van ’n span wat hulle oog op die titel het.

Omtrent elke keer wat die Tukkies aan die bal gevat het, het hulle gaan druk. Hulle het teen rustyd reeds agt keer agter die Bloemfonteiners se doellyn gaan kuier en toe met 54-0 voorgeloop.

Die grootste vraag halfpad deur die tweede helfte was of en wanneer Tuks ’n 100-tal op die telbord gaan sit. Dit het toe kort voor die einde gebeur.

Vir die wenspan het die regtervleuel Dewald Naude drie keer en die heelagter Manie Libbok twee keer gaan druk.

Joshua Stander het op binnesenter met sy balverspreiding beïndruk en vele kanse vir die spelers aan sy buitekant geskep.

Puntemakers –

Tuks (54) 100: Drieë: Joshua Stander, Neethling Fouche (*), Dewald Naude 2 (*), Naude, Manie Libbok, Libbok (*), André Warner, Brain Leitch, Ashton Fortuin, Sibahle Maxwane, Divan Rossouw, Tinus de Beer (*), Franco van den Berg (*). Doelskoppe: Joshua Stander 4, Libbok 5.
Ixias (0) 0:
(*) Sewepuntdrie

Ryan Nash, agsteman van die Maties, kry nogmaals lynstaanbesit teen die Shimlas (Foto: Van Zyl Naude/Saspa)

Ryan Nash, agsteman van die Maties, kry nogmaals lynstaanbesit teen die Shimlas (Foto: Van Zyl Naude/Saspa)

Maties trap Shimlas se tjank af

Daar is vooraf groot gewag gemaak van die stryd tussen die twee voorlopers, die Maties en die Shimlas in die Vrystaatstadion.

Op die aand was daar egter net een span op die veld, met die Stellenbossers wat agt drieë teenoor die Bloemfonteiners se twee gedruk het en met 58-12 gewen het.

Hulle het daarmee dit duidelik gemaak dat hulle met niks minder as die titel vanjaar tevrede sal wees nie.

Met rustyd was die besoekers reeds gerieflik met 30-12 voor en het in die tweede helfte aangegaan waar hulle voor die waterbreuk opgehou het.

Vir die besoekers het die linkervleuel Edwill van der Merwe drie keer agter die doellyn gaan kuier.

Puntemakers –

Shimlas (12) 12: Drieë: Wynand Pretorius, Stephan Janse van Rensburg. Doelskop: Marco Mason.
Maties (30) 58: Drieë: Edwil van der Merwe 2, van der Merwe (*), Chris Smith, Stephan Streicher (*), Duncan Saal (*), Johan van Niekerk (*), Craig Barry. Doelskoppe: Smith 2, Reinhardt Fortuin 2.
(*) Sewepuntdrie

UJ te sterk vir Madibaz

In Johannesburg moes die UJ sweet om ’n begeesterde Madibaz met 36-28 te klop.

Albei spanne het vier drieë gedruk, maar op die ou end was dit die betroubare skopvoet van die UJ se losskakel Divan Nel, wat met al vier sy doelskoppogings en twee strafdoele pale toe geslaag het, wat die verskil tussen die twee spanne was.

Met die Johannesburgers wat rustyd met 17-5 voor was, sou min die Madibaz ’n kans op ’n oorwinning gegee het. Na rustyd het hulle egter teruggeveg en amper die tuisspan geskok.

Maar die Johannesburgers het die voet op die pedaal gehou en die wa deur die drif getrek.

Puntemakers –

UJ (17) 36: Drieë: Nico du Plessis, Waldo Weideman, Johan Esterhuizen (*), Godfrey Ramaboea. Doelskoppe: Divan Nel 4. Strafdoele: Nel 2.
Madibaz (5) 28: Drieë: Thomas Kean, Nicholas Oosthuizen (*), Wynard Grassmann, Simon Bolze (*). Doelskoppe: Thomas Kean 2.
(*) Sewepuntdrie

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.