Witsies se derde span gewis nie haan van kampus

GLRUDie Universiteit van die Witwatersrand se derde span is gewis nie die gewildste op die kampus in Milnerpark nie.

Deur nie vir `n wedstryd teen Wanderers op te daag nie, het die span seker gemaak dat die eerste span die halfeindronde van die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagbeker misloop.

Die reeksreëls bepaal dat `n klub se eerste span vyf ligapunte verloor as een van sy ander spanne nie vir `n bepaling opdaag nie.

Wits het vanjaar baie goed gevaar nadat hy verlede jaar in die Plaatafdeling gespeel (en dit gewen het). Hy het vanjaar ook die reeks om die Varsityskild geheel en al oorheers – en Dinsdag se uitslae kon hom `n buitekans bied om tussen die topvier te eindig.

Nou sal die Universiteit van Johannesburg (UJ), Pirates, Raiders en die NWU Pukke stellig sake uitspook.

In die Plaatafdeling sal Randfontein, Roodepoort, Polisie en Alberton sake uitspook.

Die Senior Grootuitdaagreeks stuur op `n spannende einde af, met Germiston Simmer wat die kampioen en onoorwonne voorloper, Diggers, Saterdag 21-12 geklop het.

Diggers se tweede span het 24-15 gewen en Simmer se o.20-span 17-7.

Die twee eerste spanne het nou albei 39 ligapunte, maar Diggers het `n baie beter batige puntesaldo.

Wes-Rand Harlequins en Khosa is die ander twee in die halfeindstryd.

germiston simmer♦ Ryan Dennis, Simmer se voorsitter, sê Barry Niemand, die uiteindelike speler van die wedstryd, het twee drieë vir die wenspan gedruk en Simmer het `n strafdrie gekry. Pieter Mocke het al drie verdoel.

“Dit was `n goeie spanpoging met die voorspelers wat die grondslag gelê het vir die agterspelers om die hardloopwerk te doen.

“Uitmuntende verdediging het Simmer in staat gestel om Diggers se aanslag in die gebroke spel af te slaan.”

Dennis sê die wenspan se lynstaanwerk was buitengewoon goed en het `n sterk platform op Simmer se ingooie geskep, en hy kon Diggers se ingooie ontwrig.

Brian Lee en Marcell Pretorius het Simmer II se drieë gedruk. Lee het een verdoel en met `n strafdoel geslaag.

Dennis sê dit was `n puik wedstryd wat in die eerste helfte deur Simmer oorheers is en in die tweede deur Diggars.

Johan Roodt het uitgeblink en is as die speler van die wedstryd bekroon. Lee, Christo van Zyl en Akhona Gumede het eweneens goed vertoon.

Die o.20-span het sy staal getoon deur die bordjies teen `n oënskynlik onkeerbare Diggers te verhang.

Dennis sê die wedstryd het baie gelykop verloop en Justin Liebenberg het naas `n strafdrie vir Simmer gedruk. Werner Thomas het albei verdoel en met `n strafdoel geslaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.