Woelinge in die Bokkamp voor toets teen Poemas

Ruan Dreyer – terug by Bokke. (Foto: GB Jordaan)

ʼn Springbok is beseer, ʼn ander weer nader getrek, en vyf spelers wat in die groep van 34 spelers was vir Saterdag se Rugbykampioenskaptoets in Port Elizabeth teen die Argentynse Poemas, is vrygestel om die naweek Curriebekerrugby te speel.

Dit is van die woelinge in die Bok-kamp terwyl die beserinsgvrye Poemas rustig voorberei, of altans so vermoed ons.

Die Bok-vaskopstut Frans Malherbe is reeds Maandagaand op aanbeveling van ʼn neurochirurg aan die span onttrek. Hy moet oor twee weke vir verdere skanderings gaan, en wees maar verseker, sy kans om in die res van die Rugbykampioenskap te speel, is uiters skraal.

Die Lions se Ruan Dreyer is weer nader getrek nadat hy aan die einde van Junie sy suksesvolle buiging in die derde toets teen die Franse gemaak het.

Dreyer was aanvanklik nie beskikbaar nie, omdat daar vaderskap-verlof aan hom toegestaan is. Die baba word glo eers in September gebore, maar die Bok-afrigter, Allister Coetzee, wou nie rondskarrel wanneer die Bokke oorsee sou wees nie, en dis straks hoekom hy ook nie vir die eerste tuistoets oorweeg is nie.

Verswak dit enigsins die span? Nee, want dis ses van die een en ʼn halfdosyn van die ander. Dreyer het boonop in die eindstryd van die Superreeks gespeel.

Die vyf spelers wat vrygestel is, is Warrick Gelant (Blou Bulle, heelagter), Dillyn Leyds (vleuel, Westelike Provinsie), Lizo Gqoboka (loskopstut, Blou Bulle), Oupa Mohoje (flank, Cheetahs) en Francois Venter (senter, Cheetahs).

Afgesien van Mohoje, glo ek nie een van hulle was op die kortlys vir die eerste toets nie. Maar hulle kort speelkans, want van hulle het ook nie Curriebekerrugby gespeel nie, en kan nie verroes wil wees as hulle dalk aanstaande week saam met die Bokke vertrek vir die wegtoets teen die Poemas in Salta nie.

Dit was juis waar die Bokke verlede jaar ontspoor het, en Coetzee sal tot elke prys wil vermy dat dit weer gebeur.

Die Bokspan vir Saterdag se toets word Donderdag bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.