Wolf in skaapklere? Aikôna!

Dylan Hartley (Foto: Twitter)

Dylan Hartley (Foto: Twitter)

`n Mens trek mos nie vir wolf skaapklere aan nie, het die ouer mense altyd gesê.

Nou ja, daar trap die nuwe Engelse afrigter Eddie Jones toe in die strik deur die vurige Dylan Hartley as sy nuwe kaptein aan te wys. Of sal Jones die meeste van ons verkeerd bewys?

Die gewese Engese afrigter Clive Woodward, sê Hartley se aanstelling is die regte een, want `n mens klop nie die All Blacks op Edenpark met engeltjies nie. Ook moet jy gepantser en gestaal wees om in Bloemfontein, Brisbane en Buenos Aires te wen.

Nou ja, meneer Woodward, ek het nuus vir u, die beroepswedders in Engeland het van gister af reeds wedddenskappe op Hartley se kop geplaas: in watter wedstryd sal hy afgejaag word?

Die wedprys is 16/1 dat Hartley in een van die komende wedstryde in die Sesnasiesreeks die trekpas sal kry. Wil jy só ‘n speler as kaptein hê?

Hartley sê hy het sy lesse geleer en dat hy weet waar en wanneer om die streep te trek. Volgens hom speel hy op sy beste wanneer dinge warm raak. Hy is die afgelope ses jaar Northampton se kaptein,

Nou ja, sy lang lys van ernstige oortredings is juis in 2007, 2012 (twee keer), 2013, 2014 en in 2015 begaan, toe hy meestal vir die Saints gespeel het.

In `n jongste meningspeiling dink 55% van die mense wat daaraan deelgeneem het, dat hy die verkeerde keuse is. Altesame 26 % is nie seker nie en net 19% dink sy keuse is in die kol.

Woodward sê vorige Engelse kapteins soos Martin Johnson en Lawrence Dallaglio het ook nie die ander wang gedraai nie en dis hoekom hy Hartley se aanstelling ondersteun. Ek sal graag sy kommentaar wil hoor wanneer Engeland met net 14 spelers moet klaarkom.

Onthou, een van Hartley se groot sondes (benewens oogkrappery, kopstamp en trap) is dat hy die Engelse blaser Wayen Barnes lelik toegesnou het en lank daarvoor geskors is. Dis mos net die skietgoed wat sy teenstanders wil hê.

Kyk, ek het baie agting gehad vir spelers soos Schalk Burger (dis nou die huidige Schalk se pa), Moaner van Heerden en Bakkies Botha. Maar sou ek hulle kaptein gemaak het?

Bismarck du Plessis is die jongste voorbeeld. Hy’s `n briljante speler, maar het sy spelpeil nie onder sy kapteinskap gelei nie? En hy het ook `n skorsing op die lyf geloop.

`n Kaptein moet hardgebak wees, hy moet vurig wees, maar hy moet met sy voorbeeld lei.

Veertien spelers in rugby is taboe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.