Wolf uit SA kry 26 punte in Europese toets

José Rodrigues – 26 punte. (Foto: Facebook)

Dit was ʼn haas ongelooflike poging waarmee ʼn boorling van Standerton Saterdag in Setubal, Portugal, as ‘t ware op eie houtjie met Switserland in die reeks om die Rugby Europa-trofee (RET) afgereken het.

Nadat drie beserings Portugal se Wolwe erg ontwrig het, was die verdedigende kampioen in dié reeks rustyd onverwags met 3-17 agter teen die Edelweisse.

Uithalerspel en 26 punte in die tweede helfte het egter verseker dat die naam van José Rodrigues vorentoe groot uitgebeitel staan in die annale van Portugese rugby.

Rodrigues, wat die Sharks-vyftiental in 2016 in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig het, het twee drieë, twee doelskoppe en vier strafdoele aangeteken.

Portugal het op die ou end met 31-17 gewen.

Dit beteken hy is goed op pad om die RET die tweede opeenvolgende jaar te wen. Sy drie seges tot dusver in die reeks sluit een in oor sy vernaamste uitdager, Nederland. Dit gee hom 14 ligapunte ná drie wedstryde teenoor die Nederlanders se nege (ook ná drie wedstryde).

Kragmetings teen Moldawië (tans sesde) en Pole (tans derde) lê nog vir die Wolwe voor.

Daar wag ook nog ʼn wedstryd in die heruitdun met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi teen die span wat derde in die reeks om die Rugby Europa-beker (REB) eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.