Wolwe wen Rugby Europa-trofee met SA hulp

Portugal het Saterdag die reeks om die Rugby Europa-trofee (RET) met Suid-Afrikaanse hulp onoorwonne afgesluit.

Die Wolwe het die kragmeting teen Pole in Lódz met 27-25 gewen.

Dit was egter allermins maklik. Die tuisspan was rustyd met 13-10 voor, en het sy voorsprong binne sewe minute ná blaastyd tot 25-10 opgeskuif. Die wendrie is eers in die 80ste minuut gedruk.

José Rodrigues (binnesenter), wat vir die Shaks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebeker gespeel het, het ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir die wenspan behaal.

♦ Ciprus, wie se afrigter, Andrew Binikos, Curriebekerrugby vir die Sharks gespeel het, het sy posisie in Afdeling 2 Suid van die Europese Kampioenskap verstewig deur die besoekende Slowenië in Páfos met 17-5 te klop (rustyd 5-0).

Met slegs ʼn wedstryd teen die naasagteros Serwië oor, is die Moeflons nog nie in die reeks geklop nie.

♦ In dieselfde afdeling het die tweede geplaaste Oostenryk vir Slowakye in Wene met 59-0 afgeransel (rustyd 26-0).

Max Navas Penaherrera (skrumskakel) het 21 van die wenspan se punte met vyf strafdoele en drie doelskoppe aangeteken.

♦ Malta het Andorra in Kordin, Malta, flenters gehardloop om Afdeling 1 Suid in sy guns te beklink.

Die eilanders het 15 drieë gedruk en met 89-3 gewen (rustyd 26-3).

James O’Brien (heelagter) het 24 punte met twee drieë en sewe doelskoppe behaal, en James Kirk (regtervleuel) en die nuweling Brendan Dalton (plaasvervanger-linkervleuel) het elk drie keer agter die doellyn gekuier.

ʼn Uitspeelwedstryd teen die wenner van Afdeling 1 Noord, wat nog bepaal moet word, wag nou op die Maltese.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.