Só word Franse rugby se stertvere gepluk

ffrlogoDie Franse klubs laat die vonkelwyn in die Europese kampioenskappe vloei, maar dis ten koste van Franse rugby.

Toulon, Montpellier Hérault, Stade Français en Racing Metro 92 (en soms ook Clermont Auvergne en Toulouse) laat hul base en ondersteuners breed glimlag, maar dis juis een van die redes waarom Franse flair onderdruk word en waarom die Franse die afgelope paar seisoene  nie die mas kon opkom nie.

Kom ons kyk na van die naweek se belangrikste uitslae: Toulon 19, Bath 14; Montpellier 42, Harlequins 9; Stade Français 36, Leicester 21.

Jake White het ses Suid-Afrikaners – Robert Ebersohn, Demetri Catrakilis, Bismarck en Jannie du Plessis, Paul Willemse  en Wiaan Liebenberg – in sy opdrafspan gehad, met Pat Cilliers en Jacques du Plessis op die bank. Dis `n pluimpie vir SA rugby, maar kom ons wees eerlik, hoeveel baat vind die Franse daarby, veral as daar drie Wallabies en `n Nieu-Seelander ook nog in die span was?

Toulon se Bernard Laporte het “net” drie Bokke in sy opdrafspan gehad: Bryan Habana, Juan Smith en Duane Vermeulen, maar die span aangevul met James O’Connor, Quade Cooper, Ma’a Nonu  en Steffon Armitage.

Hoe kry die Franse eienaars dit reg om die salarisplafon te omseil? Maklik. Hulle hou binne die reëls, maar stig dan `n ander maatskappy om die spelers (soos Jonny Wilkinson, Dan Carter en ook Bakkies Botha toe hy nog gespeel het) se salarisse aan te vul.

In Engeland is die maksimum bedrag wat aan spelers bestee mag word, £5,1 miljoen (omgeskakel beloop dit R119,81 miljoen). Die Engelse mag twee topspelers uitsluit, wat die klubs in staat stel om van die wêreld se beste spelers te bekom.

In die Franse Top14-reeks is die salarisplafon €10 miljoen (byna R177 m). Die bedrag is in 2013-14 vasgepen en geld vir drie seisoene. Die klubs kan almal ook een Franse toetsspeler van die plafon vrystel .

Is dit nie juis een van Engelse sokker se probleme nie? Die klubs wemel van die wêreld se beste spelers, maar jy moet jou storie ken om `n Engelse speler raak te sien.

Só word jong talent nooit behoorlik ontgin nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.