Word spelers te gou Springbokke?

Pat Cilliers (Foto: Twitter)

Is dit net ʼn persepsie of is dit so dat Springbokkleure gans te maklik uitgedeel word?

Ja, dit gebeur sekerlik ook in al die ander voorste rugbylande. Want hoe dan anders as hulle (soos die Springbokke vanjaar) in 14 toetse of so moet speel?

Dis hoekom die Springbokafrigter, Rassie Erasmus vroeër vanjaar ʼn allemintige 46 spelers gekies het vir die eenmalige toets teen Wallis en drie toetse teen Engeland.

Dit bring my uit by London Irish se aankondiging dat hy ʼn Springbokstut gelok het om voortaan vir dié klub te speel.

Wie kan dit wees, het dit by my opgekom voordat ek die berig deurgelees het.

Daar is, as my sommetjies reg is, 18 huidige Springbokstutte wat nog speel. Hulle is Beast Mtawarira, Steven Kitshoff, Thomas du Toit, Frans Malherbe, Wilco Louw, Ox Nche, JC Janse van Rensburg, Ruan Dreyer, Vincent Koch, Lourens Adriaanse, Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen, Werner Kruger, Jannie du Plessis, Pat Cilliers, Gurthrö Steenkamp, Heinke van der Merwe en Marcel van der Merwe. Dit het ʼn klokkie laat lui.

Terloops, die 31-jarige Pat Cilliers (nog jonk vir ʼn stut) sal voortaan vir London Irish speel nadat hy die afgelope twee seisoene by Leicester was.

Cilliers is ʼn balvaardige veelsydige stut, wat weerskante kan sak, maar net in ses toetse vir die Bokke in 2012 gespeel het. Hy het ook in 54 Superwedstryde gespeel (3 vir die Sharks, 28 vir die Lions en 23 vir die Stormers). Hy was ook betrokke by twee Curriebeker-wenspanne toe die Goue Leeus die Sharks in 2011 geklop het en die Westelike Provinsie in 2014 die beker gewen het.

Maar hy het toe in onguns verval en is na Montpellier, waar hy 31 keer vir dié Franse klub onder Jake White gespeel en ook 14 keer vir Leicester uitgedraf het.

In die eerste 108 jaar van Suid-Afrikaanse toetsrugby, tussen 1891 tot 1999, het 689 spelers die land verteenwoordig. Sedert 2000, met ander woorde slegs binne 18 jaar, het nóg 219 spelers Springbokkleure gekry.

Ja, die toetse het ook baie meer geword, maar word spelers nie te gou gekies en dan te vinnig op die ashoop gegooi nie, soos met Pat Cilliers gebeur het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LHS ·

Grootste probleem is dat die afrigter te veel mag het oor spankeuses. Tweede probleem is dat die media sommige jong spelers so ophemel tot in die bokspan net om n jaar of twee later in so mate met beserings te sukkel dat hulle eenvoudig verdwyn.

Wesley ·

Die hoeveelheid wedstryde vir klubs, franchises en boonop toetse wat spelers deesdae moet speel is skrikwekkend. Ons lustigheid vir rugby naweek in en naweek uit het dit so gemaak. Daai 689 spelers tot 1999, gaan kyk maar hoeveel eersteklas wedstyde hul deur hul volle loopbane moes speel teenoor vandag se spelers, asook die heen en weer toer, dan mag jy dalk n beter prentjie kry van als.

CdV ·

Dink beslis raak te gou Springbokke. Wat van ou reël , moet eers onder 21 Liga speel en kan dan eers vir Springbokke speel. Sal minder beserings tot gevolge hê en sal speler met meer ervaring en afonding in Springbokspan inbring. Super franchises kan ‘n o/21 Liga hardloop wat voorwedtryd vir hoofwedstryd kan wees en so doen jonges waardevolle volle wedstrydervaring op ipv dat hul gewoonlik helfte van wedstryd op kantlyn sit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.