Word stutte in die grond in gespeel?

Moet jy jou beste spelers ʼn ruskans gee? Wanneer moet jy hulle laat rus, of moet jy hulle maar in die grond in speel?

Dis die tameletjie waaraan die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, nou moet kou voordat die Bokke Saterdag in Albany, net buite Auckland, in die Rugbykampioenskaptoets teen die All Blacks speel.

Ná Saterdag se gelykop uitslag van 23-elk teen die Wallabies in Perth het Coetzee geen ander keuse nie. Sy beste span moet teen die All Blacks speel.

Wen die Bokke, is die agterdeur oop om die reeks te wen. Verloor hulle, bly staan die beker weer in die vertoonkas van die Nieu-Seelandse Rugbyunie in Wellington.

Coetzee het teen die Wallabies raakgevat toe hy die slot Franco Mostert ʼn welverdiende ruskans gegee het. Sy plaasvervanger, Pieter-Steph du Toit, het soos ʼn vars briesie deur die span getrek en sý  plaasvervanger, Lood de Jager, het hom ook redelik goed van sy taak gekwyt as in ag geneem word hoe lank hy uit aksie was.

Coetzee sal minstens een verandering aan die span moet maak, met die vaskop Coenie Oosthuizen terug in Suid-Afrika nadat hy sy arm teen die Wallabies gebreek het.

Wilco Louw van die Westelike Provinsie is nader getrek, maar Ruan Dreyer sal bo hom teen die All Blacks speel, want hy is reeds deel van die groep. Een van Dreyer of Trevor Nyakane, wat ʼn diep sny aan sy oogbank opgedoen het, sal in die opdrafspan wees en die ander op die bank.

Die Nieu-Seelandse keurders het dieselfde probleem, met die loskop Joe Moody wat vir ses maande lank langs die kantlyn sal wees nadat hy ʼn skouerbesering in die toets teen die Argentynse Poemas in New Plymouth opgedoen het.

Kane Hames van die Hurricanes is nader getrek om Moody te vervang en Wyatt Crockett sal teen die Bokke speel met Owen Franks wat ook op die krukkelys en Charlie Faumuina wat in Frankryk is.

Die All Blacks het nie heeltemal oortuig nie en het met 39-22 teen die Poemas gewen.

Onthou gerus dat verskeie spelers soos Rieko Ioane, Ryan Crotty, Aaron Smith, Sam Whitelock en Liam Squire ruskans gehad het. Die samespel was nie na wense nie en wees maar verseker dat dit straks nie teen die Bokke sal gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

vrikie ·

Vergeet die stutte en kyk eerder na die vleuls, Skosan is die swak plek wat die All Blacks saterdag gaan uitbuit. Hy is nie in staat om die groot agterspelers van NZ te stuit

wesley ·

Dis maar wie en wat ons het vrikie… Skosan was ons top preseerder in SR en het homself nogal goed voorgegee in sy eerste seisoen as Bok. As ons spelers vir ons Bokke kon geneties manipuleer en groei om presies perfek NZ te stuit, dan sou ons… Ongelukkig werk dit nie so nie en spel patroon moet bewerk word om dit te weerstaan.

Eens ywerige Springbok ondersteuner ·

Dit is jammer dat die woord ‘transformasie’ my passie vir ons groen trui verflou het. Wat my betref kan die hele Springbokspan uit swart spelers bestaan, net solank ek oortuig is hulle is op meriete daar. Die senutergende opbou na toetswedstryde op Saterdae het nou ongelukkig afgewater tot die toevallige kyk van hoogtepunte lank na die wedstryd.

wesley ·

Ek glo jy het jou redes Eens-ywerig, maar ek daag jou uit, wie is nou kwota in die huidige span? Ek glo daar is druk vanaf die regering ja, politiek is maar vieslik jong, maar die span lyk nogal tops van wat prestreer het in SR, behalwe vir n meningsverskil hier en daar…. Die een aanhanger in die span wat nie eers gespeel het in SR is nogal wit ook, laas speelkans gesien 2 jaar gelede. Het jy dalk n probleem daarmee of hoe? En as ons nou terugkyk in die dae waar jy ywerig ondersteun het, was daar nie n regering-hand ook betrokke daar nie? Ons maai maar wat die voor ons gemaai het ou vriend…..

Callie ·

Wesley, een rede hoekom ons gelykop gespeel het en nie gewen het nie is juis transformasie. Dalk moeilik wees om vir jou te verduidelik maar regtig ver van bestespan wat speel. Nog n ding, Habana, Chester, Beast n jaar of twee terug, Breytie, nie een was kwotas en het almal se ondersteuning gehad. Gaan nie oor ras, gaan oor verdienste.

wesley ·

Nee asb Callie, verduidelik ten volle die rede vir die gelykop speel en transformasie se rol daarin. Ek is alle ore. Dit hoef glad nie moeilik te wees nie en ek is oop tot alle opinies en gesprek, solank dit sin maak. Terwyl ons praat van verdienste, vra dan liewer hoekom party spelers, ongeag van hul benogheid op transformasie, en wat ook nog beseer of swakker is as diegene wat hul ore aangesit het in SR, nogsteeds in die span gekies word of saamgesleep word sodat hul kans kan kry bo die wat reeds fiks en op form is. Pollard en Ruhle, altwee ewe onverdienst en elk aan teenoorgestelde kante van die transformasie spektrum. Dit het niks dan met transformasie te doen nie, en meer op die keurders se oogklappe.

Henk ·

eerstens is dit nie noodwendig die land se “beste” stutte wat in die grond ingespeel word nie. Inteendeel, ongeag die feit dat die Bokke relatief goed vaar op die veld is daar heelwat BESTE spelers wat doodeenvoudig net uitgelaat is. (om een te noem, waar is FAF de Klerk?)
Tweedens, wanneer gaan SA Rugby tot die besef kom dat daar ‘n rede was waarom daar laaaannnkk terug eens ‘n Bokspan en ‘n SA A span was. En dat die doel van die A span was, om doodeenvoudig ‘n speler wat op dieselfde vlak as die “Bok” is, gereed te he om oor te vat voor die ander speler “uitgebrand” word. Inteendeel, dit is ‘n siekte in SA rugby se sogenaamde groot unies, dat daar net 23 spelers is wat die heel jaar deur speel, tog sit hulle met 35 tot 40 spelers onder kontrak. Dikwels net sodat ‘n ander unie nie hul hande op ‘n goeie speler kan kry nie.

wesley ·

Dankie Henk, Callie moet jou kommentaar lees, want hier is die egte rede vir die probleme in die Bokspan. Combrink was gekies laas jaar en het niks fout begaan behalwe om beseer te word, het A span gepseel om vorm weer terug te kry, homself bewys, en weereens uitgelaat vir “transformasie” Ruhle. Dit waaran meeste mense vaskyk en dan transformasie blameer. Maar daar gebeur iets presies dieselfde met twee wit spelers naamlik Cronje en Pollard. Cronje als gedoen om homself te bewys en A span gespeel, maar hul sleep n beseerde Pollard saam wat 2 jaar laas gespeel het bo Cronje. Vir wat? Transformasie? Dit is die deurmekare kontrak stelsel van SA Rugby. FEITE

wesley ·

Nee asb Callie, verduidelik ten volle die rede vir die gelykop speel en transformasie se rol daarin. Ek is alle ore. Dit hoef glad nie moeilik te wees nie en ek is oop tot alle opinies en gesprek, solank dit sin maak. Terwyl ons praat van verdienste, vra dan liewer hoekom party spelers, ongeag van hul benogheid op transformasie, en wat ook nog beseer of swakker is as diegene wat hul ore aangesit het in SR, nogsteeds in die span gekies word of saamgesleep word sodat hul kans kan kry bo die wat reeds fiks en op form is. Pollard en Ruhle, altwee ewe onverdienst en elk aan teenoorgestelde kante van die transformasie spektrum. Dit het niks dan met transformasie te doen nie, en meer op die keurders se oogklappe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.