Brackenfell het sommer met die intrapslag Saterdag sy spiere in die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se Superliga A gebult; en Vinyards het die Noorderligakampioen tot in sy fondamente geskud.
Die Brakke, wat jare laas in die topliga gespeel het, het by hul terugkeer Saterdag vir Schotschekloof Walmers (SKW) 35-26 geklop.
Op die koop toe het die klub se o.20-span, wat verlede seisoen onoorwonne afgesluit het, sy portuur by SKW 64-0 van die veld af gevee.
Vinyards wat tot die Noorderliga bevorder is nadat hy die Paarlliga gewen het, het sy buiging met `n dawerende knal gemaak deur verlede jaar se wenner, Blakes van Stellenbosch, 115-6 te verrinneweer.
Superliga A
♦ Die onoorwonne wenner van die Superliga B verlede jaar, Kuilsrivier, het heel mededingend in die A-liga vertoon deurdat Belhar hom slegs 17-14 kon klop; maar die derde nuweling, Noordelikes-Northlink Kollege (NNK), is 54-10 deur die Goue Bekerklub Valsbaai verniel. NNK het sy bevordering verdien deur Villager verlede jaar 27-17 in `n promosie-relegasiewedstryd te klop.
Hamilton het Primrose 48-17, en Tygerberg vir Sir Lowrians 48-16 afgeransel.
Superliga B
♦ In die Superliga B het Goodwood, wat die Superliga C die vorige jaar gewen het, St Georges, wat sy A-status verloor het, groot laat skrik deur rustyd 21-15 voor te loop. St Georges het egter teruggeveg en op die ou end 34-26 gewen.
Die afgeskuifde Helderberg het nog `n nuweling, Strand, 35-18 geklop, en Villagers het sy terugvegpoging met `n sege van 34-15 oor Macassar begin.
Unie-Milnerton het verrassend ver gewen deur Young Peoples 87-0 te oorskadu.
Superliga C
♦ Hamediehs het sy bevordering uit die Promosieliga gevier deur Scottsdene-Sentraal 21-12 te klop, maar die ander twee bevorderderdes het slae gekry. Paarl het Lagunya 31-10 en Young Stars vir Kylemore 42-31 geklop.
Twee van die spanne wat hul B-status verloor het, het Saterdag in die C-afdeling gewen. Rangers het Elsies Rivier United 37-5 oorrompel; en Franschhoek United het Langa in `n strawwe stryd 9-7 ondergesit.
Die derde, Raithby Universals, is 15-13 deur Strand United geklop.
Stadsliga
♦ Die Stadsligakampioen, Western Zebras, het goed weggespring deur Young Ideas 26-16 te klop; en Busy Bees het Polisie in `n naelbytstryd 23-22 getroef.
Silvertree, wat sy Super C-status verloor het, het Watsonia maklik 23-5 geklop.
Suiderliga
♦ Retreat, wat die Suiderliga verlede jaar gewen het, het Titans in sy eerste wedstryd in dié liga vanjaar 18-0 geklop.
Young Wesleys het die afgeskuifde Noordelikes 27-9 afgeransel.
Noorderliga
♦ Naas Vinyards se aardskuddende sege oor Blakes in die Noorderliga het Stellenbosch Coronations, wat uit die Superliga C afgeskuif is, sy wedstryd teen Blue Stars United 20-13 gewen.
Ander uitslae –
Superliga B
Bellville 28, Violets 16; Collegians 31, Hamlets 29; Pniel Villagers 25, Hands & Heart 20.
Superliga C
Blue Jets 20, Masiphumelele 13.
Stadsliga
Temperance Cities 18, Perseverance 9; Caledonian Roses 18, Progress 0.
Suiderliga
Rocklands 20, Richmond Rangers 0.
Noorderliga
Van der Stel 43, Imiqayi 0; All Saints 23, Strand Pioneers 6; Atlantis 19, Whistling Wheels 18.
Paarlliga
Violets (Paarl) 41, Pêrel United 8; Simondium 29, Paarl Rangers 18; Agter-Paarl 29, Riverstones 23; Allendale 29, Young Gardens 13; Young Standards 18, Albions 14.