WP en Goue Leeus in ongewone kragmeting

ʼn Ongewone situasie heers wanneer die Westelike Provinsie en die Goue Leeus mekaar Vrydag op Nuweland, Kaapstad, in die Curriebekerreeks voor die bors vat.

Dis nie aldag dat dié twee spanne deur die agterosposisie bedreig word wanneer hulle teen mekaar speel nie.

Dié keer is dít wat die verloorspan te beurt kan val, as die Pumas dalk Sondag verras en die Griekwas op Kimberley klop.

Die Leeus het ʼn bitter ervaring in hul afgelope wedstryd teen die Sharks gehad, toe Robbie Coetzee onskuldig ʼn rooi kaart gekry het, en dit die KwaZulu-Natallers op die wenpad geplaas het. Hulle sal wis en seker hiervoor wil vergoed, en ʼn mens kan net hoop die voorval sal nie die Johannesburgers se vuur demp nie.

Die tuisspan is met ʼn kortkop die gunsteling, maar is geensins seker van ʼn sege nie.

Saterdag se botsing tussen die Cheetahs en die Blou Bulle op Loftus Versfeld in Pretoria behoort eweneens ʼn taai kragmeting op te lewer.

Die Bulle sal die Vrystaters ʼn harde neut vind om te kraak, maar Griekwas het getoon die verdedigende kampioen is nie onoorwinlik nie.

Die stryd in die middelveld kan tot die opwinding van die wedstryd bydra.

In Kimberley sal die Pumas Sondag alles in die stryd werp om die spel vas te maak en Griekwas se hardlooprugby aan bande te lê.

Die tuisspan het ʼn geneigdheid om swak op gunstelingstatus te reageer, en dit kan dié slag weer teen hom tel as hy nie sy ingesteldheid regkry nie.

Die besoekers mag laaste op die punteleer wees, maar as daar een ding is waaraan hulle hoegenaamd nie skuldig is nie, is dit dat hulle wedstryde op ʼn skinkbord weggee.

Afskoptye –

Vrydag

19:00 WP teen die Goue Leeus, Nuweland, Kaapstad

Saterdag

14:05 Blou Bulle teen die Cheetahs, Loftus Versfeld, Pretoria

Sondag

14:30 Griekwas teen Pumas, Griekwapark, Kimberley

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietman ·

Curriebeker is die nuwe Vodacombeker. Klomp jong manne wat die bal lug gee maar met heelwat ongerforseerde foute en swak verdediging. Kwaliteit bestaan nie.

Nico K ·

Ja dit is jammer, want die Curriebeker was altyd my gunsteling kompetisie. En met die Cheetas wat een van die dae oorsee speel, gaan hulle nou die res van die kompteisie met hul C span speel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.