WP-kampioen bedag op uitdagers in 2017

Graham Knoop van Valsbaai voer `n onderhoud met Gavin Cowley tydens die reeks om die Goue Beker. (Foto: Petri Oeschger/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Graham Knoop van Valsbaai voer `n onderhoud met Gavin Cowley tydens die reeks om die Goue Beker. (Foto: Petri Oeschger/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Die Westelike Provinsie se klubkampioen, Valsbaai, is bedag op `n klompie uitdagers wat in 2017 `n bedreiging vir hom kan bied.

Johnathan van der Walt, die Baai se hoofafrigter, sê elke klub in die Wes-Kaap sal groot planne vir aanstaande seisoen hê. Die mededinging word jaarliks strawwer.

Hy waarsku dat spanne veral sal moet ligloop vir die nuweling Unie-Milnerton, wat deur Ismael Dollie en sy helpers afgerig word.

“UniMil het die afgelope paar jaar deurlopend goed gevaar en sal die neiging in 2017 voortsit,” het Van der Walt aan Pale Toe! gesê.

“Hammies [Hamiltons] en Durbell [Durbanville-Belville] sal soos gewoonlik sterk wees.

“Tygerberg wil sy staal toon, en sal aanstaande seisoen as die geleentheid beskou om sy stand in die liga te verbeter.

“As ek `n buiteperd moet kies, glo ek Brakkies [Brackenfell] gaan `n paar groot name aarde toe bring. Hulle het `n grootse klubatmosfeer, goeie spelers en selfs beter afrigters, en sal moeilik geklop word.”

Die gebrek aan `n verwysing na die bond se sterk studenteklubs toon waarskynlik in watter mate die oop klubs uit die staanspoor al op deelname aan die reeks om die Goue Beker fokus.

Uitblinkers

Graham (Snoopy) Knoop, slot en kaptein van Valsbaai, is by die klub se jongste toekenningsdinee as speler van die jaar bekroon.

Mustaqeem Jappie is aangewys as die speler wat die afgelope seisoen die meeste verbeter het.

Wesley Chetty, Brandon Wood, Ryan Olivier, Dylon Frylinck, Andri Claassen, Riaan O’Niell en Danie Roux is eervol vermeld vir hul volgehoue goeie spel in die loop van die seisoen.

Nuwe voorsitter

Kevin Lennet is die klub se nuwe voorsitter in die plek van Gareth Jones.

♦ Van der Walt sê `n moeilike taak en pad lê voor, maar die Baai se mense sal saamstaan om dinge reg te kry.

“Ek wil nie te veel oor nuwe en huidige spelers uitlap nie. Ons gaan `n lang ruskans geniet en begin 9 Januarie vir die seisoen voorberei.

“Die 2017-seisoen sal weer opwindende klubrugby oplewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.