WP kan greep verstewig

(Foto: Hansie Linde)

Die Westelike Provinsie kan sy greep as voorloper op die Curriebeker-punteleer vandeesweek verstewig.

Die Kaapse span is op 11 ligapunte een punt voor die Pumas wat uitstekend weggespring het in vanjaar se kompetisie.

Die WP het twee van sy drie wedstryde gewen en speel Woensdag (afskoptyd 15:45) gasheer vir die Griekwas, wat die Cheetahs verslaan het. Daar is geen onoorwonne span in die toernooi oor nie.

Die Cheetahs is onderaan die punteleer en speel Vrydagmiddag (afskoptyd 16:00) teen die gevaarlike Pumas.

In die ander kragmeting van die naweek kom die Sharks in Durban (afskoptyd 14:30) teen die Lions te staan. Die manne van Durban het een wedstryd minder gespeel en behoort op te skuif van sy vierde plek op die punteleer.

In die Eerste Liga van die Curriebeker het die Oostelike Provinsie sy eerste oorwinning van die seisoen behaal en verras deur die Boland Kavaliers op Despatch te klop.

Die Valke het hulle tweede agtereenvolgende oorwinning oor die Luiperds in Brakpan behaal.

Die Griffons gee steeds die pas aan in die Eerste Liga met 14 punte, gevolg deur die Luiperds (11) en die Valke (10) wat hulle jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.