WP-klubs: Durbell bevestig sy GB-aanspraak

durbell-logo.squareDie oop klubs se nasionale kampioen, Durbanville-Bellville, het Saterdag die beste aanduiding dusver gegee dat hy nie die Goue Beker (GB) op `n skinkbord gaan weggee nie.

Hy het die nuweling in die GB-reeks en die beste oop klub verlede seisoen in die Westelike Provinsie, Valsbaai, op die nippertjie 31-29 in `n vriendskaplike wedstryd geklop.

Naas uitblinkers wat vir provinsiale diens opgeroep is, het beserings in die strawwe GB-uitspeelwedstryde verlede jaar hul tol geëis, en Durbell het aanvanklik in die WP se Superliga A gesukkel. Hy het later goed reggeruk, maar kon nie onder die voorste vier spanne eindig nie.

Dit lyk egter of die heropbou van die span geslaag het en sake vanjaar anders kan verloop.

Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, sê die twee spanne was in elke opsig van die spel mekaar se gelyke en die ligakragmeting later vanjaar tussen hulle beloof `n puik kragmeting op te lewer.

♦ Die tweede span, onder die hand van die nuwe afrigters Keith Theunissen en Servaas Hofmeyer, het van `n rustydagterstand teruggeveg om die Baai 26-19 te klop; en die derde span het sy goeie vertonings voortgesit en Valsbaai in `n naelbytstryd 15-14 ondergesit.

♦ Die o.20B-span het Vrydag op Durbell se veld sy eerste wedstryd gespeel, maar moes die knie voor sy portuur van Brackenfell buig.

♦ Die Durbie Blues, die klub se sosiale span, het Saterdag op besoek aan Brackenfell in sý eerste wedstryd van die seisoen 17-24 teen dié klub se derde span verloor.

♦ Die immergroen oumanspan, die Durbie Old Boys, het Woensdag as gasheer vir Cape Crusaders van Kuilsrivier opgetree en die besoekers met agt drieë teen een verslaan.

♦ Durbell se o.20-spanne speel Woensdag tuis in hul jaarlikse vriendskaplike kragmeting teen die Elsenburg-landboukollege van die Maties; en die eerste en tweede spanne speel Saterdag teen die Universiteit van Kaapstad.

♦ Nagel sê die klub het `n veldtog van stapel laat loop om oudspelers en ander goedgesindes as nie-spelende lede te betrek en belangstellendes kan met hom by [email protected] in verbinding tree.

♦ Diegene wat vir `n sosiale, dog mededingende span wil speel, kan die Blues se afrigter, Grant Tyson by 082 979 1578 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.