WP-klubs: ou-ou tradisie swig voor heropbou

villager-logoDalk die oudste derby in SA rugby het in die slag gebly vanweë die opbouproses waarin een van die deelnemers hom bevind.

Villager het Dinsdag aangekondig hy het besluit om jare lange jaarlikse vriendskaplike kragmeting teen Hamiltons te kanselleer. Dit sou Saterdag plaasvind.

Dié twee klubs is die oudste in die land en die tradisie kom uit die dae toe `n derby nog `n derby was – `n genadelose stryd tussen twee buurspanne – en nie die holruggeryde bemarkings-cliché wat dit geword het nie.

Luidens `n verklaring deur Villager is die klub tans in `n herboufase.

“Al is die bepaling diepgewortel in albei klubs se geskiedenis, glo ons die heropbou van die klub moet nou voorkeur geniet. Daar is slegs drie weke oor voor die nuwe seisoen begin en ons glo ons moet ons op die kondisionering van die spelers toespits om te verseker hulle is fisiek gereed vir `n baie strawwe 2016-seisoen.

“Die besluit is nie ligtelik geneem nie, maar die klub glo die voorbereiding vir die stryd om Superliga A-status moet in alle opsigte voorkeur geniet.”

Die legendariese klub wat beroemde Springbokkapteins soos Bennie Osler en Morné du Plessis tussen sy oudspelers tel, is einde verlede jaar na die Superliga B afgeskuif nadat hy maar pas die begin van die seisoen sy A-status herwin het.

♦ Die Superliga A-span Primrose het Villager Saterdag 18-14 in `n vriendskaplike wedstryd geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.