WP knoop Bul se stert sommer voor rustyd al

SP Marais – 20 punte. (Foto: WP Rugby)

Die Westelike Provinsie het op Nuweland grootliks verras deur sommer in die eerste helfte al met die Blou Bulle klaar te speel.

Die WP het met 45-34 teen die Bulle gewen, nadat hy ses drieë teen vier gedruk het, en rustyd reeds met 42-13 voor was.

Die Bulle het in die eerste helfte omtrent geen balbesit gekry nie, met die Streeptruie wat hulle stukkend geskrum het, hul lynstane wat beroerd was (en Victor Matfield gaan die Goue Leeus hiermee help), en die Superrugbyreeks se gesukkel in die los wat voortduur.

Die WP se bonuspuntdrie het in die 21ste minuut gekom, die Bulle se éérste drie tien minute later eers. Die tuisspan het voor die blaaskans nóg twee keer gaan druk om die drieëtelling op daardie tydstip op ses teen een te staan te bring.

Damian Willemse (losskakel) se briljante voetwerk het ʼn juweeldrie opgelewer; en SP Marais (heelagter) het 20 punte met ʼn drie, ses uit ses doelskoppe en ʼn strafdoel opgelewer.

Die ommeswaai ná rustyd was te laat vir die besoekers, al het hulle drie doele teen die WP se enkele strafdoel op die telbord geplaas.

Daar was meer druk en dringendheid by die Bulle, en hulle het besit en gebied oorheers, maar ʼn paar kanse laat glip. Die agterlyn was puik.

Ondanks die goeie oorwinning, kan John Dobson nie tevrede wees met sy span se dissipline nie. Die Kapenaars het ná rustyd wéér twee geel kaarte op die lyf geloop, en tien strafskoppe afgestaan.

Die puntemakers –

WP 45 (42) – Drieë: Seabelo Senatla (2), Nizaam Carr, Damian Willemse, SP Marais, Scarra Ntubeni. Doelskoppe: SP Marais (6); Strafdoel: SP Marais.

Blou Bulle 34 (13) – Drieë: Kefentse Mahlo (2), Piet van Zyl, Johan Grobbelaar. Doelskoppe: Tony Jantjies (4). Strafdoele: Tony Jantjies (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.