WP-liga: 2 500 sien klubrugbyskouspel in Kaap

Valsbaai-logoSowat 2 500 toeskouers het Saterdag op Philip Herbstein-park in Contantia aanskou hoe Valsbaai kliphard teen Tygerberg moes veg om sy onoorwonne status te handhaaf.

Direct Axis Valsbaai, een van minstens twee WP-spanne in vanjaar se reeks om die Goue Beker, het die Tygerbergers op die ou end 30-20 geklop, nadat hy rustyd 18-8 voor was.

Jon Harris, Valsbaai se woordvoerder, sê die wedstryd was van die afskop tot die eindfluitjie die ene opwinding.

“Riaan O’Niel, die Zimbabwese sewesspeler, het die eerste drie gedruk toe hy deur die Tygers se verdediging gesny het om `n beweging af te rond wat hy 40 meter tevore aangevoor het. Hy was deurgaans indrukwekkend.

“Agt minute later het die agsteman Ryan Olivier in die middel deurgebars om met briljante eenvoud van `n vaste faset af te druk. Die heelagter, Adnaan Osman, het dit verdoel.”

Harris sê die besoekers het die volgende punte aangeteken toe die flank Dale Wilson gedruk het nadat `n strafdoel kantlyn toe gemik is.

Osman het met twee strafdoele geslaag, voordat Alroy Brandt een vir Tygerberg bygevoeg het om die rustydtelling 18-8 te maak.

“Die Tyger was in die duiwehok toe Brandt kort ná rustyd in die hoek oorgebars het om die Baai se voorsprong te halveer,” sê Harris.

“Met `n halfuur oor was die verskil vyf punte (18-13) en daar was geen teken dat die Tygers se drie wedstryde in sewe dae hul enigsins uitgeput het nie.”

“Valsbaai het geduldig vir die regte oomblik gewag, kalm gebly, op sy struktuur en akkuraatheid gefokus, en in Tygerberg se gebied in gevorder. Die bal is keer op keer herwin en die verdediging getoets.

“Dit het uiteindelik dividende afgewerp toe die flank Jody Reineke oorgeval het aan die einde van `n beweging wat op etlike fases gevolg het.”

Harris sê dit het Valsbaai `n voorsprong van 12 punte gegee (25-13) en dit wou voorkom of die slag gelewer was.

“`n Afgestormde skop het egter aan Brandt sy tweede drie besorg, en die losskakel, Steward Jacobs, se doelskop het die verskil tot `n ontereikende vyf verminder (25-20).

“Dit was `n stukkie briljante rugby wat in die Baai se eie helfte begin het, wat die wedstryd beklink het. Die plaasvervanger-skrumskakel, Dylon Frylinck, het `n teenaanval van stapel laat loop, die bal na die vleuel Mustaqueem Jappie laat loop, wat 20 meter gevorder het voor hy dit aan Frylinck – wat omgehardloop het – terugbesorg het om die laaste 20 meter af te lê en sierlik oor die doellyn te duik (30-20).”

Harris sê die Tygerbergers Brandt, die senter Niezaar Roos, Jacobs en Wilson het deurgaans die oog gevang.

“Vir Valsbaai was Osman, O’Neill, Reyneke en die kaptein, Graham Knoop, uitmuntend en Frylinck se kameerol het die besoekers se harte gebreek.

Valsbaai speel Saterdag op Rosmeadlaan teen Primrose.

villager-logoSuperliga B

♦ Villager het Saterdag `n senutergende kragmeting teen Helderberg op Brookside in die Superliga B 30-29 gewen nadat hy in `n stadium 3-19 agter was.

Drie minute voor die einde was Herderberg 29-27 voor, maar die Villager-kaptein, Dan Clarke, het die wenskop in die doodsnikke deur die pale gestuur. Hy het 15 punte met drie elk doelskoppe en strafdoele behaal.

Nik Vetsos (stut) het sy besonderse seisoen voortgesit met sy vyfde drie in ses wedstryde. Zubs Abrahams (skrumskakel) en Ashley Clarke (plaasvervanger-agsteman) het Villager se ander twee drieë gedruk.

Dan Clarke het `n generaalswedstryd op losskakel gespeel en foutloos geskop, maar Brodie Blows is as die speler van die wedstryd gekroon. Sy werkverrigting het die afgelope paar weke verstom.

Villager II het Helderberg II welverdiend 17-8 geklop, maar Helderberg III het 29-5 gewen. Helderberg se o.20-span, die voorloper in die liga, het sy Villager-portuur 51-7 gelooi (rustyd 36-0).

Villager speel komende Saterdag op Brookside teen Collegians.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.