Die onoorwonne wenner van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se Superliga B is sommer baie lus vir die uitdaging wat sy bevordering tot die bond se vyftien topklubs bied.
Grant Albertyn, Kuilsrivier se wedstrydsekretaris, sê hulle is baie opgewonde om terug in die A-geledere te wees en wil dié keer seker maak dat hulle daar bly.
“Dis nog baie vroeg vir die oordrag van spelers, maar daar is gewis meer wat kom oefen en `n goeie klompie van hulle is nuwe spelers. Tussen 60 en 80 spelers daag Maandae, Dinsdae en Donderdae by die oefeninge tussen 18:45 en 20:45 op.
“Ons het ook ons afrigting versterk deur die gewese hoofafrigter van Belhar, Mark Willard, as tegniese raadgewer te betrek.”
Kuilsrivier se eerste vriendskaplike wedstryd is op 5 Maart tuis teen Macassar. Daarna raak sake moeiliker: op 12 Maart speel hy teen St Georges, wat sy A-status moes prysgee; op 19 Maart teen Unie-Milnerton, die topspan wat in die B-afdeling oorbly na die bevorderings; en op 23 Maart teen Kraaifontein, die C-kampioen.
♦ Naas Kuilsrivier is Brackenfell en Northerns Northlink-kollege (NNK) tot die Superliga A bevorder, met Villager en Helderberg wat saam met St Georges na die B-afdeling afgeskuif is.
♦ Ruben Machelm van die WPRU se klubafdeling bevestig dat die gewese Gemeenskapsuitdaagreeks teen die Bolandse klubs omrede die verskuiwing van die Goue Beker-reeks tot September gesneuwel het. Dit beteken die Bolandse klubligas moet vroeër begin en dié bond kon hom nie tot die oorgrensliga verbind nie.
Hy sê die WPRU se ligas begin 2 April en die bepalings sal uitgereik word ná `n vergadering op 18 Februarie met die klubs.
Vanjaar se promosie-relegasiebeleid sal ook dan bekend gemaak word.
Machelm sê die bestaande ligaformaat is tot 2017 van krag. Raadpleging oor die 2018-reeks begin in Mei en die uitvoerende komitee sal die formaat vir 2018 en 2019 teen 30 September vanjaar aanvaar.