WP-liga: Blitsbok versterk Kraaie se breiers

Antonius Verhoeven (Foto: pretenders.co.za)

Antonius Verhoeven (Foto: pretenders.co.za)

Kraaifontein, wat verlede jaar tweede in die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se Superliga C was, het sy afrigtingskorps met `n paar nuwe aanstellings, onder andere `n gewese Blitsbok, versterk.

Só laat weet Kattes Kruger, `n woordvoerder van die klub.

Die gewese kaptein van die WP se amateurspan, Anton Lamprecht, is weer die hoofafrigter. Dié groot, sterk agsteman was verlede jaar nog die voorste driedrukker (28) in die bond se Superliga C.

Lamprecht word bygestaan deur die nuweling, Antonius Verhoeven, `n gewese Blitsbok (13 toernooie) en oud-Bolandspeler (124 wedstryde, 329 punte), wat die agterspelers deur hul passies sal vat.

Dan het die gewese Bolandse agsteman, Schuan Heyliger, ook nou opgehou speel en hy sal saam nog `n ou staatmaker, Ettienne Pockbass, die Kraaie se tweede span dril.  Kevin Kruger sal opnuut die derde span onder hande neem, en André Maree, wat verlede seisoen die kampioen-o.20-span se afrigter was, sal weer die jongspan se breier wees.

Nog `n welkome nuwe gesig is die ervare Manny de Pavia, wat as die direkteur van afrigting aangestel is.

Volgens Lamprecht is hy opgewonde en optimisties oor die nuwe seisoen.

“Feitlik al verlede seisoen se eerstespanspelers is weer beskikbaar en heelwat belowende nuwe gesigte is gereeld by die oefeninge wat tans uitstekend bygewoon word.”

♦ Kruger, die organiseerder van die klub se Jan du Toit-rugbydag op 5 Maart, sê Raithby Universals het onttrek en word deur die Bolandse span Saldanha vervang, wat in Raithby se plek teen Wellington sal speel.

Saldanha het verlede jaar die kwarteindronde van die reeks om die Bolandse Grootuitdaagbeker gehaal.

Hy sê benewens die taai wedstryd teen die Bolandse kampioen, Worcester Villagers, wat tydens die rugbydag op hulle wag, het die Kraaie `n uitdagende vriendskaplike program teen, met die uitsondering van Helderberg wat einde verlede seisoen afgeskuif is, almal WP-Superliga A-klubs.

Hulle speel 20 Februarie tuis teen Brackenfell, 26 Februarie weg teen Helderberg, 12 Maart tuis teen Tygerberg, en 23 Maart weg teen Kuilsrivier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.