WP-liga: Boksprong kry Durbell oor hoë hekkie

Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, Jaco Kriel, Peter Virgin, die bestuurder van Durbell se eerste span, Duane Heath (Saru), Ruan Combrinck, Sinethemba Zweni, die vooritter van Durbell, en Franco Mostert in die Durbell-kleedkamer.

Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, Jaco Kriel, Peter Virgin, die bestuurder van Durbell se eerste span, Duane Heath (Saru), Ruan Combrinck, Sinethemba Zweni, die vooritter van Durbell, en Franco Mostert in die Durbell-kleedkamer.

`n Mens kan as ‘t ware sê Durbanville-Bellville is met `n Boksprong oor sy hoogste hekkie dusver hierdie seisoen in die Westelike Provinsie se Superliga A.

Suid-Afrika se Goue Bekerhouer is met `n kleedkamerbesoek uit die Springbok-kamp verras voor hy Vrydag teen die tweede geplaaste Hamiltons dramaties `n agterstand van 3-22 in `n sege van 55-32 omskep het.

Darron Nagel, die ondervoorsitter van Durbell, loof Duane Heath, Saru se projekbestuurder vir die Goue Bekerreeks, vir die inisiatief wat hy aan die dag gelê het om saam met Jaco Kriel, Ruan Combrinck en Franco Mostert `n aanmoedigingsbesoek aan die Durbell-kleedkamer te bring. Hammies is darem nie oorgeslaan nie.

Die wedstryd het egter nie afgeskop soos Durbell dit graag wou hê nie, en Nagel sê Hammies het binne die eerste drie minute punte aangeteken. Kort voor lank het die Durbies nog twee drieë afgestaan om ná 30 minute 3-22 agter te loop.

“Dit het gelyk of `n enorme loesing op die tuisspan wag, maar dit was asof die afrigter, Bobby Joubert, met `n hefboomwisseling die span na snelrat oorgeskakel het.

“Die jong, talentvolle span was eensklaps vreeslose en ervare mededingers, wat drie drieë in die laaste tien minute ingeryg het.

“Toe die rustydfluitjie blaas, was Dulbell slegs `n punt agter, en die stukrag in sy guns.”

Nagel sê die manne van die Ville het die besoekers in die tweede helfte op kliniese wyse afgetakel en nog vier drieë teen een gedruk.

“Dit strek die besoekers tot eer dat hulle selfs toe die koeël deur die kerk was tot die bitter einde gestry het.”

Hy sê die wedstryd het talle uitblinkers opgelewer, maar Angus Cleophas se spel op losskakel nadat hy weens `n besering van sy gebruiklike plek op heelagter daarheen verskuif is, was `n absolute openbaring.

“Hy is skitterend op stryk en het twee drieë gedruk en sewe doelskoppe in punte omskep om 24 punte op die telbord te plaas. Hy was ook die speler van die wedstryd.”

Nagel sê Durbell se tweede span het baie geleer uit sy nederlaag van 17-24 teen `n gedugte Hammies.

“Hulle was deurentyd mededingend, maar het op die ou end nie die skietgoed gehad om `n bres in die besoekers se verdediging te slaan nie.”
Die derde span se onoorwonne rekord is daarmee heen toe Hamilton hom 10-6 geklop het; en die besoekers het Durbell o.20 20-7 geklop.

Die Durbie Blues is Brookside toe om Villagers aan te durf, waar die gasheer 26-19 gewen het.

Durbell se volgende kragmeting is eers op 16 Julie, wanneer hy die voorloper Valsbaai aandurf.

Ander uitslae –

Superliga A

Brackenfell 17, NNK 14; Sir Lowrians 25, Kuilsrivier 24.

Superliga B

Bellville 22, Young Peoples 19; Unie-Milnerton 69, Kraaifontein 7; Macassar 17, Helderberg 15.

Superliga C

Scottsdene-Sentraal 33, Lagunya 24; Langa 28, Raithby Universals 27; Paarl 21, Kylemore 10; Franschhoek United 14, Elsies River United 0.

Suiderliga

Young Wesleys 28, Eersterivier 26; Noordelikes 69, Bishop Lavis 0.

Noorderliga

Stellenbosch Coronations 77, Delft 13.

Paarlliga

Allandale 37, Violets Paarl (19).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.